Ons is ‘n dinamiese gemeente in die Noordelike voorstede van Kaapstad. Die jeugbediening speel vir ons ‘n belangrike rol in die lewe van ons gemeente. Kinders, tieners en jong volwassenes word bemagtig om hul identiteit in Christus te ontdek en uit te leef. Hieronder volg ‘n kort opsomming oor waar jou kind tans by jeug-aktiwiteite kan inskakel.
Bybelskool is die vaslê van Bybelkennis en die geloofsontwikkeling van al ons kinders wat oor alle Grade strek. Ons het programme vir kinders vanaf voorskool tot Matriek. Elke graad het ‘n jeugherder wat sover moontlik ‘n pad stap saam met hulle van begin tot en met graad 10. Klasse vind op Sondae plaas. Voorskool tot graad 5 se klassies geskied tydens die erediens en vanaf graad 6 vind plaas na die erediens.
Kindertyd:
Elke Sondag word daar tydens die diens ‘n oomblik geskep waar ons plek maak om die kinders te bedien, groot en klein. Ons kinders word verwelkom, gesien en gehoor, en hierdie geleentheid is van waarde vir alle ouderdomme. Selfs ons seniors vind baat hierby. Die kindertyd is dus ‘n intergenerasionele deel in die erediens, waar oud en jonk by mekaar kan leer.
Junior Jeug
Elke Dinsdag, om 17:00 tot 17:45, bied ons ons KFJ (Kids for Jesus) bediening aan. Hierdie is ‘n bediening wat spesifiek fokus op die kleiner kinders (tot Gr6). Tydens hierdie kontaksessie word daar ‘n speletjie gespeel, geëet, gesing, geleer en daar is ook tyd vir ‘n handaktiwiteit. Enige een is welkom om hierby in te skakel, selfs al is hul nie van ons gemeente nie.
Senior Jeug:
Ons tieners en jong volwassenes is ook vir ons belangrik, en ons besef ook dat die uitdagings en behoeftes vir hulle anders lyk as vir die junior jeug. Daarom bied ons nog ander programme vir hulle aan.
Spesiale geleenthede:
Ons skep ook graag ander geleenthede gedurende die jaar waar die jeug betrokke kan raak en gemeenskap beleef. Hou gerus ons sosiale media dop om te sien wanneer alles plaasvind.
· Senior Jeugkamp
· Uitreike na outehuise in die omgewing
· #Imagine
· Kinder- en Tienerpinkster