Vriende,
Aangeheg is die 2de laaste tema (Spieëltjie, spieëltjie in my hand) van ons reeks van ‘God se asem tussen bladsye’.
Ek sluit ook ‘n skakel in na die Bybel 2020. Dit is slegs nog in proefvertaling beskikbaar en elke boek moet afsonderlik afgelaai word. Kyk gerus daarna.
http://www.bybeldirektevertaling.co.za/index.php/proefvertalings#Fase3
| Bybeldirektevertaling – proefvertalings Tot dusvêr is tekste aan die einde van fase 3 op die webblad geplaas, nadat die kommentaar deur kerklike en ander lesers in fase 3 deur die onderskeie Redaksionele Komitees oorweeg is. Dit was in elk geval slegs vir kennisname. Ons is nietemin dankbaar teenoor lesers wat sedertdien hierdie tekste gelees het en tog nog kommentaar ingestuur het. www.bybeldirektevertaling.co.za |
Groete,
Kleingroep en Huisgodsdiens riglyne
Tema #5 – Spieëltjie, spieëltjie in God se hand
Mens tot Mens
- Deel met mekaar iets uit jou kinderdae – toe jy kattekwaad aangevang het of iets gedoen het wat jou baie diep in die moeilikheid laat beland het.
- Ons sien onsself dikwels anders as wat die mense rondom ons na ons kyk. Laat elkeen ‘n beurt kry om die ontvanger te wees van hoe ander na hom/haar kyk. Elke persoon kry ‘n beurt om stil te bly terwyl die res van die lede van die groep ‘n beurt kry om een eienskap van die persoon te noem wat vir hom kosbaar is of wat jy waardeer van daardie persoon.
- Steek ‘n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid
- Luister na ‘n geestelike lied en word stil in die Here se teenwoordigheid.
- Gee geleentheid vir gebede.
God tot mens
Lees saam Jakobus 1:19-27
- Gesels met mekaar oor wat in die tekste julle opval? Lees die teks moontlik uit ‘n ander vertaling (Boodskap is onderaan) ook. Wat hoor julle anders?
- Gesels oor die volgende vrae:
- Jakobus gebruik die beeld van ‘n spieël. Hoe is die woord van God ‘n spieël?
- Waar in jou lewe het jy al ervaar dat die Woord jou aanspreek of jou help om jou gedrag te verander?
- Jakobus vra dat ons nie net hoorders moet wees nie, maar ook daders van die Woord moet wees. Waarom dink julle skryf hy hieroor? Is dit dalk moontlik waar van ons ook? Wat sou hy dalk vir ons geskryf het?
- Daar is ‘n spreekwoord: “’n Spieël kan nie jok nie!” Gesels ‘n bietjie met mekaar hieroor. Wat beteken dit vir ons lewe?
- Watter waarhede spreek die Woord van God vandag in ons lewens? Hoe gehoorsaam is ons om dit te volg?
- Watter deel van die Woord van God is vir julle die duidelikste spieël? Waarom?
- Soms gebruik mense die Bybel as slaan stok om ander seer te maak? Vertel n verhaal waar jy dit al ervaar het of dalk teenoor iemand anders gebruik het. Het dit gewerk? Wat sou dalk vir jou beter wees?
Mens tot medemens
Geloofsgewoontes is om ons daarin te oefen om bewus van God te leef.
Met hierdie geloofsgewoonte leer ons om die stem, leiding en teenwoordigheid van God in ons alledaagse lewe raak te sien. Hierdie gewoonte skep ’n dieper bewussyn van God se wil vir ons lewe.
- Die manier waarop ons God se Woord gebruik maak soms mense seer. Daar kan baie redes hiervoor wees, maar die hoof rede is omdat ons ander veroordeel en dink ons is reg. Dink n oomblik na oor hoe julle mekaar en ander eerder kan opbou en kan help as om te veroordeel.
Doen-dinge:
- Skryf ’n paar kaartjies met bemoedigende tekste op en gaan deel dit die week uit aan persone wat jy weet swaar kry.
- Koop by n winkel klein spieëltjies en plak agterop ’n teks wat mense kan help om te weet dat God by hulle is en dat hulle kosbaar vir Hom is.
- Maar ’n houer van waardering. Gee vir elkeen kans om deur die week op ’n kaartjie iets te skryf (jy kan meer as een ook skryf) wat hy van die ander lede van die huisgesin waardeer en gooi dit in die houer. Een keer per week of per dag maak julle die houer oop en lees van die kaartjies. Bid dan as gesin saam om vir die Here dankie te se.
Voorbidding
- Deel enige gebedsverhoring of Godservarings sedert julle mekaar laas gesien het. Dank God daarvoor.
- Spreek julle versugting in gebed uit om volkome onder die beheer van die Heilige Gees te lewe.
- Dank die Here vir Sy Woord in ons lewens.
Jakobus 1:19-27 (Die Boodskap)
Regte godsdiens praat nie net nie, dit doen
19Liewe mede-Christene, plak hierdie woorde op waar julle dit elke dag kan sien: julle moet ander mense ’n kans gee om te sê wat hulle op die hart het. Luister rustig na hulle sonder om hulle te wil doodpraat. Wanneer dit jou kans is, gee jou mening. 20Moet jou net nie vererg nie, want wat gaan dit nou help? As jy jou humeur verloor, kan jy mos nie meer daarop ingestel wees om te doen wat God wil nie. 21Raak daarom ontslae van elke stukkie gemors en vuilheid wat jou geestelike lewe mag toegroei of bederf. Wees liewer gehoorsaam aan die boodskap van God wat julle goed ken. Daardie boodskap hou julle soos ’n padkaart op die regte pad en daardie pad sal julle vir altyd by God uitbring.
22Doen wat God vir jou sê. Daar wag ’n groot verrassing op jou as jy maar net daarna sit en luister en niks daaraan doen nie. Jy dink dalk jy is mooi godsdienstig, maar eintlik is jy besig om jouself lelik te kul. 23Iemand wat net na God se woord luister sonder om te doen wat dit vra, is soos ’n man wat na homself in ’n spieël kyk. Hy sien daar hoe deurmekaar sy hare is. Hy draai dan om en stap weg sonder om sy hare te kam, omdat hy dadelik vergeet hoe deurmekaar sy hare is. 24Hoe anders is dit nie met iemand wat moeite doen om alles van God se wil te leer nie. Deur na die wil van God te luister word jy mos vry van al die slegte dinge wat jou lewe so deurmekaar kan krap. 25Iemand wat so ernstig in God se wil belangstel en dit wat hy daar hoor ook gaan doen, het die ware geluk en sin van die lewe ontdek.
26Kom ons dink aan ’n voorbeeld. Iemand wat meen hy is ’n godsdienstige mens, maar wat lelik praat, baklei en skinder soos hy wil, slaan die bal baie ver mis. Hy is allesbehalwe ’n godsdienstige mens. Al die ander dinge wat hy doen om godsdienstig te probeer wees, is verniet.
27Laat ek vir julle sê watse soort godsdiens God ons Vader as eg en eerlik sien: as jy bereid is om dié mense te help wat nie vir hulleself kan sorg nie, maar in die nood is, is jy besig met die regte godsdiens. Maar dan moet jy ook sorg dat jou eie lewe skoon bly van al die verkeerde dinge wat ’n mens in hierdie wêreld kan doen.