Vriende,
Soos julle weet skop ons hierdie week af met ‘n splinternuwe reeks – Hou jou rigting:
Die temas is as volg:
Sondag 6 Sep – Hemelse reëls (Daniel 5)
Sondag 13 Sep – Morele outoriteit (Nehemia 5:14-18)
Sondag 20 Sep – Duidelikheid (Josua 1:5-11)
Sondag 27 Sep – Medemenslikheid (Joh 10:11-13)
Onder is die materiaal vir hierdie week.
Kleingroep en Huisgodsdiens riglyne
Hou jou rigting: Nuwe gewoontes in onseker tye
Tema #1 – Hemelse reëls
Mens tot Mens
- Gesels met mekaar oor die mense wat in jou lewe die grootste invloed op jou vorming gehad het. Hoekom?
- Wat is vir jou die kern van iemand wat leiding neem?
- Steek ‘n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid
- Luister na ‘n geestelike lied en word stil in die Here se teenwoordigheid.
- Gee geleentheid vir gebede.
Leierskap, hoe groot of klein ook al, is rentmeesterskap
van die tydelike invloed wat ons het.
As ons ons leierskap beskou as iets waarvoor ons
verantwoordbaar is, sal ons baie minder geneig wees
om dit vir onsself te benut.
God tot mens
Lees saam Daniel 5:11-17
(As die lede Daniel 5:1-30 voor die tyd lees sal dit goed wees en die gesprek help)
- Gesels met mekaar oor wat in die tekste julle opval?
- Watter eienskappe het Daniel gehad? Wie ken jy wie oor soortgelyk eienskappe beskik?
- Leierskap gaan oor die invloed wat jy uitoefen op die gemeenskap waarin jy woon. Vertel vir mekaar van mense wat dit goed doen? Vertel van mense wat hiermee sukkel? Waarom is daar ‘n verskil?
- Dink ‘n oomblik na oor die invloed wat jy op ander mense maak. Watter van hierdie eienskappe sal jy graag meer wil maak in jou lewe? Verduidelik
- In Sondag se oordenking praat ons oor drie elemente wat ons leierskap bepaal – Rentmeesterskap, Tydelikheid en Aanspreeklikheid. Watter een van die drie elemente dink jy het ons tans die meeste nodig in ons samelewing?
- Lees Markus 10:42-45. Wat staan vir jou uit? Wat is Jesus se kwalifikasie vir leierskap?
Mens tot medemens
Dit is ‘n ongewone seisoen vir ons almal.
Maar ongewone tye bied ongewone geleenthede.
Soek hierdie week na ‘n geleentheid om u invloed –
u tydelike rentmeesterskap – te benut vir iemand wat daarby kan baat.
Dit is immers waarom God dit aan u gegee het om mee te begin.
Doen-dinge:
- Maak ‘n lys van die plekke waar jy tans invloed uitoefen (bv. Gesin, werksplek, sportgebied, ens.) Bepaal of jou invloed positief of negatief is. Watter plekke kan jy jou invloed verbeter?
- Kyk weer na die lys van eienskappe wat Daniel gehad het – hoe dink jy kan jy jou eie leierskap verbeter deur die eienskappe meer in jou lewe te vestig?
- Dink oor mense in jou gemeenskap wat kan baat deur jou leierskap of die invloed wat God vir jou gegee het? Dink hoe jy of jul groep by hulle betrokke kan raak en ‘n verskil kan maak.
Voorbidding
- Deel enige gebedsverhoring of Godservarings sedert julle mekaar laas gesien het. Dank God daarvoor.
- Spreek julle versugting in gebed uit om volkome onder die beheer van die Heilige Gees te lewe.