Kleingroepriglyne vir 23-29 November 2020 Klei in God se Hand

Kleingroepriglyne vir 23-29 November 2020 Klei in God se Hand

Riglyne vir omgeegroepe en huisgodsdiens

Week: 23-29 November 2020

Onderwerp: Klei in God se Hand (Jesaja 64:1-8)

Voor die groep begin – probeer om vier kerse reg te kry vir die kleingroep byeenkoms.

Wanneer die groep begin, vra iemand in die groep om een van die kerse aan te steek (die ander drie kerse moet nie aangesteek word nie – dit dien as simbool vir die volgende vier weke se Advent tyd).

Terwyl die kers aangesteek word, vir mekaar:

Ek is hier…. Jy is hier…. God is hier. Ons kan ons oë toehou terwyl ons dit sê, dit kan ons help om op God te fokus.

Die kers word aangesteek as herinnering van die teenwoordigheid van die onsigbare God in ons midde. Lees Kol 1:15 vir mekaar.

Laat iemand in die Groep open met ‘n gebed van danksegging.

Bespreek dan die volgende:

Mens tot Mens

Hierdie week begin ons om die eerste Advent Sondag te vier. Vra vir mekaar of iemand dalk weet, wat Advent is, en wat hierdie tyd so spesiaal maak? 

Lees die volgende greep vir mekaar om julle te help met die bespreking:

Text Box: Met Kersfees vier en verkondig ons dat die Woord vlees geword en onder ons kom woon het (Joh 1:14). Advent is die tydperk (vier weke) van aanloop tot Kersfees. Advent is immers nie dieselfde as Kersfees nie, maar dit is ‘n tyd van verwagting en voorbereiding op die koms van Christus. In hierdie tyd word ons herinner aan die hoop waarmee Israel in donker tye op die koms van die Messias gewag het. Advent is dus ‘n tyd vir terugkyk na Israel se Messias verwagting – Advent wil ons leer om geduldig op die Here te wag.

Bespreek die volgende stelling:

Die moderne mens se persepsie is dat ‘wag’ ‘n vermorsing van tyd in ons gejaagde samelewing is. Tot in watter mate kan julle hiermee vereenselwig? En hoe sou julle sê beïnvloed hierdie gejaag na wind julle verhouding met God? (Prediker 2:17).

God tot Mens:
Lees Jesaja 64:1-8

Na aanleiding van die teks:

Lees die volgende stelling: Text Box: Konteks
Daar is algemene konsensus dat die boek van Jesaja nie in een stuk gegiet is nie, maar dat dit oor ‘n lang tydperk tot stand gekom het. Die teks vir hierdie week, val dan in die tydperk van Kores II, die koning van Anshan. Hy is die en een wat die Persiese ryk verenig het, en so ook beheer oor die Babiloniese ryk gewen het. Een van die groot bydraes tot die geskiedenis van die Gods volk, is dat hy in 538vC toegelaat het dat die Joodse ballinge na Jerusalem kon terugkeer. Die volk bevind hulle dan weer terug in die land waarna hulle so verlang het, en in die vervulling van God se belofte dat Hy hulle sal red uit die hand van die vyand. Die Jode vind hulself dan weer in die beloofde land, maar hierdie keer is dinge anders. Jesaja kla die volk aan dat hulle aandag gee aan hulle eie behoeftes, en hulle eie huise bou, terwyl die tempel (wat God se teenwoordigheid verteenwoordig) nog in stukkies lê.
                                                                                                                                                                               Die mense van ouds het geglo dat niemand God kan ken nie, dat Hy bo ons verstand is, en omdat ons hom nie kan sien nie, daarom moet ons nie eers probeer om hom te begryp of verstaan nie.

  1. Tot in watter mate dink julle het die feit dat die Jode nie vir God kon sien nie, bygedra tot hulle verval in hulle geloof?
  2. In teenstelling met die eerste vraag, tot watter mate het die sigbaarheid van die ander nasies se afgode bygedra tot die Jode se aanneem van daardie gode? En is dit nog waar vandag?
  3. Die teks begin met ‘n dringende noodkreet vanaf die skrywer dat God homself aan hulle (die afvallige Jode) sal openbaar. Waarom dink julle is dit die begeerte van die skrywer?
  4. Indien die Here homself op hierdie maniere geopenbaar het, dink julle dit sou die volk help om nie net na Hom terug te keer nie, maar ook aan Hom getrou te bly? En waarom?
  5. Vers 8 is ‘n baie interessante insetsel in die teks, dit voel amper uit plek uit. Daar word ‘n stuk vertroue uitgedruk naamlik dat God hul Vader is. Dit help hulle met hulle identiteit (naamlik:) Dit is om te weet waarvandaan hulle kom, ten spyte van hulle omstandighede. Wat beteken die beeld van ‘Vader’ vir jou? en hoe kan ons dit gebruik om God beter te verstaan?
  6. Dink julle dat die Jode dalk ‘n identiteitskrisis (as God se volk) gehad het na hulle ballingskap? En indien so, hoe dink julle beïnvloed dit ons verhouding met God as ons ‘n identiteits probleem het (om nie seker te wees wie ons is, of wie God is nie)?
  7. Die tweede gedeelte van v8 verwys daarna dat ons klei in die hande van die Here is, en dat Hy die Pottebakker is. Wat beteken hierdie stelling vir jou?
  8. Is jy oop dat die Here jou vorm? Of is jy gelukkig met jou ‘vorm’?
  9. Maak dit julle ongemaklik wanneer ons praat oor Advent as ‘n tydperk van verwagting, maar ook as ‘n tyd om op die Here te wag? Waarom?
  10. Is daar iets wat vir jou uitstaan in die teks? Deel dit met die groep.

Mens tot Medemens: Introspeksie en oordenking
Die volgende oefening kan óf persoonlik en privaat, óf indien die groep gemaklik is met mekaar, in die groep gedeel word

  1. Dink bietjie aan die areas waar God jou dalk moet ‘herskep’ en vorm.
  2. Dink bietjie aan die idee van om op God te wag. Is jy dalk iemand wat ongeduldig is met God? In watter areas in jou lewe is jy ongeduldig met God?
  3. Neem die kers, en stuur dit om sodat elkeen ‘n beurt kry om dit vas te hou. Speel dalk musiek in die agtergrond. Terwyl elke persoon die kers houvas, kan die persoon ‘n stil gebed doen vir die areas wat hy/sy geïdentifiseer het in die vorige twee vrae. (Doen ‘n kort gebed oor daardie areas van jou lewe, en) Vra dat die Here jou in daardie areas van jou lewe sal hervorm.

Sluit af deur vir elkeen ‘n beurt te gee om te sê waarvoor hul gebed nodig het. Bid dan as ‘n groep vir elkeen. Hou in gedagte dat jy dalk die antwoord op iemand se gebed kan wees.