Kleingroepriglyne vir 16-20 November 2020 Lewe om Hom te loof

Kleingroepriglyne vir 16-20 November 2020 Lewe om Hom te loof

Mens tot Mens

  • Wat is die werklike bestaansdoel van ‘n mens op aarde? Maw, wat is die doel van ons  bestaan as mense?

Waarvoor bestaan jy? Jy lewe om Hom te loof.

En om Sy teenwoordigheid in jou lewe te geniet.   -Uit die Kontak.

Mens tot God

  • Lees Psalm 100:1,2 en 4. Lees asb die opmerkings hieronder hardop voor.

Die oproep tot blydskap is universeel – almal op aarde! Die mense moet letterlik ‘n vreugdevolle geraas maak. (v1) Ons dien die Here deur in sy teenwoordigheid te kom, en andersom. Deur in sy teenwoordigheid te staan, dien ons Hom. (v2) Wat is die normale respons van mense wat aan die Here behoort? Dit is om in sy teenwoordigheid dank-, lof- en prysliedere tot eer van sy Naam te sing. Die psalmdigter benadruk dat die tempel aan die Here behoort. Die mense van God kan deur die poorte tot in die tempel gaan en Hom aanbid en prys. (v4)

  • Kersmoment
  • Gebed

God tot mens

Hierdie Psalm staan ook bekend as die “Jubilate”. Dit is waarskynlik een van die psalms wat in die kerklike liturgie die meeste gesing word. Sommige kommentare beskou die woorde “juig, dien, kom, poorte, tempel en Naam” as uitdrukkings van toenemende nabyheid en intimiteit. – Woord en Fees

Skriflesing:  Psalm 100:1-5.

1 Psalm 100 is ’n dankpsalm wat uitgejubel word wanneer die volk die tempel binnegaan om die Here te aanbid. Hoe voel julle oor die lof en aanbiddingsmomente in ons eredienste?

2 Psalm 100 help ons om opnuut na te dink oor die verbondsbeloftes van God en watter eise daarmee gepaardgaan. Wat is die verband tussen beloftes en eise? Kyk na die aanhaling hieronder.

Die maak of vervul van die belofte is ook altyd onafhanklik van die prestasie van die mens. Die spanning tussen belofte en vervulling, was nie ‘n spanning tussen wat God beloof het en wat die mens moes doen om die belofte vervul te kry nie. Die vervulling het ‘n daad van die trou van God gebly, onafhanklik van die menslike bydrae (Zimmerli).

3 Waarom behoort ons diens aan God (v2) nooit uit dwang te wees nie, maar altyd uit dank?

4 Wat is die doel van die “prestasie van die mens”? Vers 3 kan dalk help.

5 Vers 4 beskryf iets van die lofprysing wat ons aan God verskuldig is. Lees die opmerking van Dirkie Smit hieronder. Wat sê dit vir ons?

Die doksologie of lofprysing vorm die hart van die Christelike lewe. Die hele Christelike lewe gaan oor lof aan God, die eer van die Here se Naam, die verheerliking van sy Naam, die erkenning van sy heiligheid. Die Christelike lewe is lofprysing. Lofprysing staan absoluut sentraal in die Christelike lewe. Daar is niks belangriker nie.

6 Indien die tyd dit toelaat, gesels kortliks oor die sewe elemente van lof en aanbidding wat in die Psalm voorkom, naamlik “Juig, dien met blydskap! Kom voor Hom met gejubel! Erken dat die Here God in; gaan sy poorte binne met dank en lof, dank Hom, prys sy Naam.”

7 Waarom behoort ons leefstyl een van lof en aanbidding te wees? Is dit so?

Ons loof en aanbid Hom omdat Hy ons gemaak het. Ons is God se mense, nie net omdat Hy ons geskep het nie, maar veral omdat Hy ons gekies en verlos het. Ons behoort aan Hom omdat Hy ons geskep het. Ons behoort aan Hom omdat Hy ons gekies het. Ons behoort aan Hom omdat Hy ons verlos het.  – Uit die Kontak

Mens tot medemens

Kan ander mense agterkom dat jy leef om die Here te loof?

Doen-dinge

Vra iemand waarvoor hy/sy leef.

Voorbidding

Bid dat die Here ons sal help om lewens van lof en aanbidding te lei.

Seëninge,  Andrie.