Riglyne vir omgeegroepe en huisgodsdiens
Week: 9-15 November 2020
Onderwerp: Oorwinning is in God se hand (Rigters 4:1-8)
Wanneer die groep begin, maak seker dat iemand die kers aansteek.
Sê vir mekaar dat die kers dui op God se teenwoordigheid by julle, en dat die lig wat die kers bring, ‘n teken is dat God ook lig in ons donker wêreld en omstandighede inbring.
Laat iemand in die Groep open met ‘n gebed van danksegging.
Bespreek dan die volgende:
Mens tot Mens
Elkeen van ons is uniek gemaak, en omrede ons verskillende persoonlikhede, reageer ons verskillend op verskeie situasies en uitdagings. Lees die stelling hieronder, en bespreek met die groep, watter een van die twee reaksies is jy geneig om te hê op moeilike of uitdagende situasies. En waarom dink jy is dit die geval?
God tot Mens: Lees Rigters 4:1-8
Na aanleiding van die teks:
- Waarom dink jy vind die Volk van God hulle in ‘n situasie van onderdrukking? (v 1).
- Ons het laas week gelees van Josua wat ‘n keuse voor die volk neergelê het, en met die uitdaging gesê het: “Ek en my huisgesin sal die Here aanbid” (Josua 24:15). Wat dink jy dra daarna toe dat mense ‘n keuse maak om God te volg, en soms dan ‘n paar jaar later (self korter), hul op ‘n plek bevind dat ander dinge meer belangrik geword het – soos in die geval van die Israeliete hier in Rigters?
- Hoe belangrik is dit vir jou dat daar ‘n leier-figuur in jou lewe is, om vir jou aanhoudend leiding te gee wanneer jy dit nodig het? En indien jy so ‘n persoon in jou lewe het, wie is dit?
- Wat dink jy is die hoofredes waarom Israel by God gaan pleit het vir bevryding? (v3).
- Wat is jou idee van ‘n goeie leier, en watter karaktertrekke behoort so ‘n persoon te hê?
- Is daar iets wat vir jou uitstaan in die teks? Deel dit met die groep.
Mens tot Medemens: Introspeksie en oordenking
- Dink bietjie (en bespreek) die foute wat jy al gemaak het in jou lewe, veral die wat ‘n groot uitwerking en invloed op jou lewe gehad het.
- Dink bietjie (en bespreek) die uitdagings wat jy tans ervaar en beleef
- *Privaat oefening: Dink aan die een ding (bv. sonde, keuse, familie, seer) wat/waardeur die vyand ‘n houvas op jou het, of ‘n uitdaging wat jou tans (in die rug ry) bedreig.
Skryf nou jou grootste uitdaging op ‘n stukkie papier neer, bid daaroor in privaat, gee dit vir God, en wanneer jy gereed is, laat die kers dit verbrand – as teken dat God dit nou oorneem.
Sluit af deur vir elkeen ‘n beurt te gee om te sê waarvoor hul gebed nodig het. Bid dan as ‘n groep vir elkeen. Hou in gedagte dat jy dalk die antwoord op iemand se gebed kan wees.