Vriende,
Onder is ons riglyne vir die week – let asseblief daarop dat dit betrekking het tot die boodskap van eerskomende Sondag 12 Julie.
Groete,
Kleingroep en Huisgodsdiens riglyne
Sondag 12 Julie
Mens tot Mens
- Gesels met mekaar oor waar het jy van God se teenwoordigheid die week bewus geraak?
- Wie het die Here die week oor jou pad gestuur om gasvryheid of barmhartigheid te beoefen?
Mens tot God
- Steek ‘n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid
- Luister na ‘n geestelike lied en word stil in die Here se teenwoordigheid.
God tot mens
Lees saam Matteus 11:28-30.
- Gesels met mekaar oor wat in die teks julle opval? Watter rus het julle tans nodig?
- Die juk van ‘n rabbi was sy lering. Sommige rabbi’s se juk het soms swaar laste op gelowiges gelê en dit selfs dikwels onmoontlik gemaak om te volg. Dit beteken dat dit onmoontlik vir mense was om gered te word. Watter juk word daar vandag dikwels op lidmate gelê?
- As Jesus sê sy juk is lig en sag – wat dink julle het Hy daarmee bedoel? Wat sal julle sê is Jesus se juk? Hoe vergelyk dit met die juk wat soms op mense gelê word?
- Lees die Message se weergawe van die teks en gesels met mekaar oor wat julle opval.
28-30“Are you tired? Worn out? Burned out on religion? Come to me. Get away with me and you’ll recover your life. I’ll show you how to take a real rest. Walk with me and work with me—watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.”
5 Jesus se uitnodiging vra ook van ons om ons naaste uit te nooi tot rus by ons? Hoe kan ons daarop let dat ons nie ook ‘n swaar juk op mense plaas nie, maar eerder ruimtes skep waar hulle rus kan kry.
Mens tot medemens
Geloofsgewoontes is om ons daarin te oefen om bewus van God te leef.
Met hierdie geloofsgewoonte leer ons om die stem, leiding en teenwoordigheid van God in ons alledaagse lewe raak te sien. Hierdie gewoonte skep ’n dieper bewussyn van God se wil vir ons lewe.
- Wie is die mees onwaarskynlike mense wat om ons leef, waarna God ons stuur?
- Hoe kan ons meer bewustelik leef om hulle raak te sien?
Dink-dinge:
- Neem aan die einde van elke dag, die dag in oënskou. Dink terug aan oomblikke waar jy liefde ontvang of gegee het. Waar was jy bewus van die Here se teenwoordigheid?
- Reflekteer oor die hoogte- en laagtepunte van die dag. Hoe nooi die Here jou om te bid oor die hoogte- en laagtepunte voordat jy aan die slaapraak?
- Steek ’n kers aan en raak bewus van die Here se teenwoordigheid. Plaas jou hand op jou hart en vra die Heilige Gees om daardie oomblik van die dag waarvoor jy die dankbaarste is vir jou uit te wys. Sê dan vir die Here dankie daarvoor.
Doen-dinge:
- Hoe kan jy iemand anders help om die teenwoordigheid van God raak te sien? Hoe sien jy gewoonlik God se teenwoordigheid raak? Hoe reageer jy op sy teenwoordigheid? Dink aan praktiese maniere om diegene om jou hiermee te help.
- Wat het die Here die afgelope ses maande in jou lewe gedoen? Gaan kuier by iemand die week en vra hom/haar die vraag en probeer luister na waar jy God se teenwoordigheid in sy/haar lewe raaksien. Erken dit en dank die Here daarvoor in gebed saam met die persoon.
- Dink aan die vrug van die Gees. Waar, dink jy, wil die Here dit gebruik om sy teenwoordigheid vir ander deur jou te wys? Hoe kan die Here sy teenwoordigheid deur jou meer sigbaar maak? Dink prakties!
Voorbidding
- Deel enige gebedsverhoring of Godservarings sedert julle mekaar laas gesien het. Dank God daarvoor.