Kleingroepriglyne vir 26 Julie 2020

Kleingroepriglyne vir 26 Julie 2020

Beste vriende,

Ons begin Sondag met ‘n splinternuwe reeks:  God se asem tussen bladsye en gaan in die volgende 6 weke saam gesels oor die volgende onderwerpe:

  • Wanneer God fluister
  • Om God te Google
  • Asem in.  Asem uit
  • Hoe om te boer in die Bybel
  • Spieëltjie, spieëltjie in my hand
  • Kweek die regte aptyt

Mag dit vir almal ‘n besondere ervaring wees.
Groete,


Kleingroep en Huisgodsdiens riglyne

God se Asem tussen bladsye

Mens tot Mens

  • Beantwoord een van die vrae oor jou week:
    • Gesels met mekaar oor waar het jy van God se teenwoordigheid die week bewus geraak?
    • Hoeveel uit 10 sal jy jou week gee en hoekom? Waarvoor is jy dankbaar en wat was vir jou moeilik? Waar het jy God aan die werk gesien?
    • Vertel van iets waarvan jy baie hou. Hoe laat dit jou voel as jy daardie ding het?

Mens tot God

  • Steek ‘n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid
  • Luister na ‘n geestelike lied en word stil in die Here se teenwoordigheid.

God tot mens

Lees saam Psalm 19

  1. Gesels met mekaar oor wat in die teks julle opval?
  2. Gesels oor ten minste vier van die volgende vrae
    1. Vertel vir mekaar wat se rol die Bybel in jou lewe speel?
    1. Die Woord van God is ‘n manier waarop God Homself aan ons openbaar. Watter woorde gebruik die digter om die openbaring van die Here mee aan te dui?
    1. Watter kwaliteite word aan die openbaring van die Here gekoppel?
    1. Watter belonings skenk God aan die mense wat openbaring ter harte neem?
    1. Hoe gesagvol is die Woord van God in die wêreld waarin ons leef?
    1. Watter waarde of gesag het die Woord van God in jou eie lewe… as heuning? … as swaard?
    1. Glo jy in die Bybel, of in God wat deur die Bybel met ons praat?
    1. Vertel vir mekaar n verhaal waar die Bybel jou gehelp het as riglyn vir jou lewe.

Mens tot medemens

Geloofsgewoontes is om ons daarin te oefen om bewus van God te leef. 

Met hierdie geloofsgewoonte leer ons om die stem, leiding en teenwoordigheid van God in ons alledaagse lewe raak te sien.  Hierdie gewoonte skep ’n dieper bewussyn van God se wil vir ons lewe. 

  • As die Here Jesus vir jou die opdrag gee om die Woord te glo en te gaan verkondig, wat gaan jy doen om gehoorsaam aan sy opdrag te wees?
  • Hoe kan julle as groep mekaar help om gestruktureerd deur die Bybel te lees?

Leer die week Ps 119:103

Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond.

Dink-dinge:

  1. Neem aan die einde van elke dag, die dag in oënskou.  Dink terug aan oomblikke waar jy liefde ontvang of gegee het.  Waar was jy bewus van die Here se teenwoordigheid?
  2. Reflekteer oor die hoogte- en laagtepunte van die dag.  Hoe nooi die Here jou om te bid oor die hoogte- en laagtepunte voordat jy aan die slaapraak?
  3. Steek ’n kers aan en raak bewus van die Here se teenwoordigheid.  Plaas jou hand op jou hart en vra die Heilige Gees om daardie oomblik van die dag waarvoor jy die dankbaarste is vir jou uit te wys.  Sê dan vir die Here dankie daarvoor.    

Doen-dinge:

Speel in die huis die ou “telefoonspeletjie” waar die eerste lid van die gesin ’n boodskap fluister in die oor van die tweede lid van die gesin. Die boodskap word dan in n fluistertoon na al die lede van die gesin aangestuur – selfs 2 keer in die rondte as die gesin klein is. Laat die laaste persoon dit wat hy/sy gehoor het, hardop verwoord sodat dit vergelyk kan word met die oorspronklike boodskap! Luister ons goed genoeg, of is dit moeilik om te hoor as iemand fluister? Hoe hoor ons God wanneer Hy fluister.

Voorbidding

  • Deel enige gebedsverhoring of Godservarings sedert julle mekaar laas gesien het. Dank God daarvoor.
  • Spreek julle versugting in gebed uit om volkome onder die beheer van die Heilige Gees te lewe. 
  • Dank die Here vir Sy Woord in ons lewens.