Kleingroepriglyne vir 19 Julie 2020

Kleingroepriglyne vir 19 Julie 2020

Kleingroep en Huisgodsdiens riglyne

Sondag 19 Julie

Mens tot Mens

  • Beantwoord een van die vrae oor jou week:
    • Gesels met mekaar oor waar het jy van God se teenwoordigheid die week bewus geraak?
    • Hoeveel uit 10 sal jy jou week gee en hoekom? Waarvoor is jy dankbaar en wat was vir jou moeilik? Waar het jy God aan die werk gesien?
    • Vertel van iets waarna jy met verwagting uitgesien het. Beskryf hoe jy gevoel het.
    • Wie het die Here die week oor jou pad gestuur om gasvryheid of barmhartigheid te beoefen?

Mens tot God

  • Steek ‘n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid
  • Luister na ‘n geestelike lied en word stil in die Here se teenwoordigheid.

God tot mens

Lees saam Romeine 8:1-17

  1. Gesels met mekaar oor wat in die teks julle opval?
  2. Gesels oor ten minste vier van die volgende vrae
    1. Wie of wat is tans in beheer van jou lewe? Daar is ‘n maklike manier om dit te bepaal: Aan wat spandeer jy die meeste tyd en geld in jou dag? Gesels met mekaar oor die goed wat tans die meeste aanspraak maak op jou tyd en geld. Wat is die aanspraak van die goed op jou vreugde en vrede?
    1. Die tweede hoofdeel van die brief aan die Romeine, hoofstukke 5-8, vertel van die nuwe lewe waaraan vrygespreektes deel het.  Elkeen wat in Jesus Christus glo is geregverdig/vrygespreek en leef nou as splinternuwe mense, nie meer onder die wet nie, maar onder ‘n nuwe Heer, Jesus Christus en ook onder beheer van die Heilige Gees.  Vertel vir mekaar in watter opsig jou lewe ook verander en nuutgemaak is sedert jy ‘n navolger van Jesus geword het. 
    1. Paulus vertel dat gelowiges nou vrygemaakte mense is: vrygemaak van die straf op die sonde, vry van die mag van die sonde en Geesbeheersde mense is nou ook gehoorsaam aan die wet – hulle is vry om deur die Gees van God, wat in hulle woon, die wet gehoorsaam uit te leef.  Hoe kan julle as volgelinge van Jesus hierdie vryheid uitleef? Hoe kan ons ander help om die vryheid uit te leef?
    1. Ons dink soms dat sonde is net die goed wat ons verkeerd doen. So as ek minder verkeerde dinge doen, dan doen ek minder sonde. Sonde is ten diepste ons begeerte om weg van God te beweeg en die beheer van ons eie lewens te behou. Paulus se redenasie is dat sonde ‘n toestand van ons hart en lewe is. Ons kan nie op ons eie (bv om minder verkeerde dade te doen) daarvan loskom nie. Ons kan slegs deur God van sonde verlos word. Hoe laat hierdie denke jou oor jouself en oor ander dink?
    1. Wat maak dit in jou wakker om jouself te sien as ‘n kind en erfgenaam van God? Watter implikasies het dit vir jou lewe?
    1. Wat beteken dit om gelykvormig te wees aan die beeld van die Seun? Hoe slaag jy daarin? Hoe sal dit wees as ons dit regtig ernstig neem?

Mens tot medemens

Geloofsgewoontes is om ons daarin te oefen om bewus van God te leef. 

Met hierdie geloofsgewoonte leer ons om die stem, leiding en teenwoordigheid van God in ons alledaagse lewe raak te sien.  Hierdie gewoonte skep ’n dieper bewussyn van God se wil vir ons lewe. 

  • Wie is die mees onwaarskynlike mense wat om ons leef, waarna God ons stuur?
  • Hoe kan ons meer bewustelik leef om hulle raak te sien?
  • Hoe is jou optrede ’n voorbeeld aan ander van jou verhouding van Jesus Christus?

Dink-dinge:

  1. Neem aan die einde van elke dag, die dag in oënskou.  Dink terug aan oomblikke waar jy liefde ontvang of gegee het.  Waar was jy bewus van die Here se teenwoordigheid?
  2. Reflekteer oor die hoogte- en laagtepunte van die dag.  Hoe nooi die Here jou om te bid oor die hoogte- en laagtepunte voordat jy aan die slaapraak?
  3. Steek ’n kers aan en raak bewus van die Here se teenwoordigheid.  Plaas jou hand op jou hart en vra die Heilige Gees om daardie oomblik van die dag waarvoor jy die dankbaarste is vir jou uit te wys.  Sê dan vir die Here dankie daarvoor.   

Doen-dinge:

  1. Hoe kan jy iemand anders help om die teenwoordigheid van God raak te sien? Hoe sien jy gewoonlik God se teenwoordigheid raak?  Hoe reageer jy op sy teenwoordigheid? Dink aan praktiese maniere om diegene om jou hiermee te help.
  2. Wat het die Here die afgelope ses maande in jou lewe gedoen?  Gaan kuier by iemand die week en vra hom/haar die vraag en probeer luister na waar jy God se teenwoordigheid in sy/haar lewe raaksien. Erken dit en dank die Here daarvoor in gebed saam met die persoon.
  3. Dink aan die vrug van die Gees.  Waar, dink jy, wil die Here dit gebruik om sy teenwoordigheid vir ander deur jou te wys? Hoe kan die Here sy teenwoordigheid deur jou meer sigbaar maak? Dink prakties!

Voorbidding

  • Deel enige gebedsverhoring of Godservarings sedert julle mekaar laas gesien het. Dank God daarvoor.
  • Spreek julle versugting in gebed uit om volkome onder die beheer van die Heilige Gees te lewe.