Kleingroepriglyne vir 02 Augustus 2020

Kleingroepriglyne vir 02 Augustus 2020


Vriende, 

Aangeheg is die weeklikse riglyne vir die tweede tema van ons nuwe reeks:  God se asem tussen bladsye

  • Wanneer God fluister 
  • Om God te Google 
  • Asem in.  Asem uit 
  • Hoe om te boer in die Bybel 
  • Spieëltjie, spieëltjie in my hand 
  • Kweek die regte aptyt 

Groete, 

Kleingroep en Huisgodsdiens riglyne

God se Asem tussen bladsye

Tema #2 – Om God se wil te Google

Mens tot Mens

  • Beantwoord een van die vrae oor jou week:
    • Gesels met mekaar oor waar het jy van God se teenwoordigheid die week bewus geraak?
    • Hoeveel uit 10 sal jy jou week gee en hoekom? Waarvoor is jy dankbaar en
    • Vertel vir mekaar van ‘n baie spesiale teksgedeelte in die Bybel. Dalk kan jy n storie deel oor wat die teksgedeelte al vir jou beteken het.
  • Steek ‘n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid
  • Luister na ‘n geestelike lied en word stil in die Here se teenwoordigheid.

God tot mens

Indien moontlik laat elkeen na die DVD kyk.

Lees saam Psalm 119:1-9, 97-105

  1. Gesels met mekaar oor wat in die tekste julle opval?
  2. Gesels oor ten minste vier van die volgende vrae
    1. Wat dink jy beteken dit in die praktyk om te “wandel in die Woord van die Here?”
    1. Waarom lees jy die Bybel? Vertel vir mekaar oor watter rol speel die Bybel in jou geloofslewe/stiltetyd.
    1. Gesels met mekaar oor die volgende stelling: “Die meeste mense lees die Bybel om inligting te kry (vir informasie) eerder as wat hulle die Bybel lees sodat hulle lewens daardeur verander sal word (transformasie).”
    1. Die Psalmdigter praat in liefdestaal oor die woord van God. Hoe kan ons mekaar help om ‘n dieper liefde vir God se woord te kweek? Watter gewoontes kan ons dalk aanleer om meer tyd in God se woord te spandeer?
    1. Psalm 119 gee riglyne vir jong gelowiges. Hoe kan ons die riglyne in ons eie lewens toepas? Hoe kan ons ons kinders help om ‘n liefde vir God se woord te kweek?
    1. Wat dink julle bedoel die Psalmdigter met Ps. 119:105 “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.” Vertel n verhaal waar dit in jou lewe van toepassing is.
    1. Baie male kry ons dat gelowiges mense kritiseer of afkraak uit die Woord. Hoe dink julle kan ons dit aanspreek? Waarom dink julle doen mense dit?
    1. Gesels oor manier wat ons God se woord kan gebruik om ander te bemoedig of te versterk. Dink aan moontlik iemand vir wie julle so kan help.

Mens tot medemens

Geloofsgewoontes is om ons daarin te oefen om bewus van God te leef. 

Met hierdie geloofsgewoonte leer ons om die stem, leiding en teenwoordigheid van God in ons alledaagse lewe raak te sien.  Hierdie gewoonte skep ’n dieper bewussyn van God se wil vir ons lewe. 

  • Hoe kan julle as groep mekaar help om gestruktureerd deur die Bybel te lees?

Leer die week Ps 119:105

U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.

Dink-dinge:

  1. Kies ’n Psalm en skryf die Psalm oor in jou eie woorde. Lees elke dag die Psalm om jou herinner aan God se woord
  2. Reflekteer oor die hoogte- en laagtepunte van die dag.  Hoe nooi die Here jou om te bid oor die hoogte- en laagtepunte voordat jy aan die slaapraak?
  3. Steek ’n kers aan en raak bewus van die Here se teenwoordigheid.  Plaas jou hand op jou hart en vra die Heilige Gees om daardie oomblik van die dag waarvoor jy die dankbaarste is vir jou uit te wys.  Sê dan vir die Here dankie daarvoor.

Doen-dinge:

Maak vir julle Bybelvers kaartjies (koringkorrels) wat jy oral in die huis kan opsit om mekaar te herinner aan God se goedheid. Vra vir elkeen in die huis om sy/haar gunsteling verse neer te skryf en plak die verse op. Julle kan dit ook in n bak gooi en gee vir elkeen n geleentheid deur die dag om n vers te trek en dit vir mekaar te lees of vir mekaar te gee as bemoediging vir die dag.

Voorbidding

  • Deel enige gebedsverhoring of Godservarings sedert julle mekaar laas gesien het. Dank God daarvoor.
  • Spreek julle versugting in gebed uit om volkome onder die beheer van die Heilige Gees te lewe. 
  • Dank die Here vir Sy Woord in ons lewens.