Kleingroepriglyne vir 4 Okt 2020 God kan iets nuuts doen

Kleingroepriglyne vir 4 Okt 2020 God kan iets nuuts doen

Kleingroep en Huisgodsdiens riglyne

Sondag 4 Oktober

Reeks: God se lente bring hoop en lewe (Jes. 43:1-21)

Tema #1 God kan iets nuuts doen

Mens tot Mens

  • Ons verkeer letterlik en figuurlik in verskeie seisoene van die lewe. Hou dit in gedagte wanneer jy met mense in aanraking kom.
  • Lewer gerus kommentaar op die stelling hieronder.

Ons beleef meermale die spreekwoordelike wisseling van seisoene in ons geestelike lewens . Soms is dit winter. Dan is God ver en vreemd. Ons geloof is swak. En ons hoop verdwyn soos mis voor die son. Dit is grendeltyd in ons geloofslewe…                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                    

Mens tot God

  • Skep ‘n gewyde atmosfeer (stilte, mooi lied, gebed ens.).
  • Help mekaar om op God te fokus. Praat so min as moontlik.
  • Oorweeg dit om in die oomblik van toegespitsde aandag op God, Jes. 43:19 voor te lees.
  • Laat almal vir ‘n oomblik nadink oor die betekenis van die belofte voordat julle die kers  aansteek.
  • Gee geleentheid vir stil gebed.

Tog is dit nie die einde van alles nie. Want God is nog daar. Hy kan die seisoene verander – letterlik en figuurlik. Hy kan en wil die winter in ons geestelike lewens in lente verander. Lente bring nuwe lewe. En nuwe hoop. Want God maak alles nuut. Hy laat jou geloof weer groei. Vertrou Hom daarvoor…

God tot mens

Agtergrond

Israel is in ballingskap. God beloof om sy volk te bevry. In ons Skrifgedeelte (Jes. 43:14-17)

beloof Hy om iets nuuts te doen. Dit sal nog meer drammaties wees as hulle verlossing uit

Egipte.

 Skrifgedeelte:  Jesaja 43:13-17.

  1. Waarom is die ongelooflike belofte in vers 14 “gelooflik” as ons vers 15 daarmee saam lees? Wat sê dit vir ons aangaande God se beloftes?
  2. In watter opsig word die belofte in vers 14 versterk deur dit wat in verse 16 en 17 staan?
  3. Watter invloed behoort God se beloftes op ons geloofslewe te hê?
  4. Lees asseblief Jes 62:6b. Hoe moet ons Sy beloftes hanteer?
  5. Om Hom voortdurend aan Sy beloftes te herinner, beteken dat ons Sy beloftes sal ken. In hoeverre is ons met God se beloftes vertroud? Sien julle kans om van Sy beloftes uit julle kop te leer? Gee ‘n rede vir julle antwoord. (‘n Swak geheue is nie ‘n rede nie…)
  6. Watter uitwerking kan dit op ons geestelike lewe hê as ons nie Sy beloftes ken nie?
  7. Daag mekaar uit om in die komende week een (kort) belofte te memoriseer en dit volgende keer met die groep te deel. (Bv. Matt. 11:28)

Mens tot medemens

Bid (Oratio)

Die ervaring dat God met ons praat wanneer ons die Woord lees, vereis ‘n respons van ons kant.

You don’t teach prayer, you teach God and the people want to pray. – Metropolitan Anthony

Watter rol behoort gebed volgens die stelling hierbo, in ons selgroep se oordenking van die Woord te speel?

Doen-dinge

Leer een van die beloftes in die Bybel uit jou kop uit en deel dit met iemand anders.

Voorbidding

Vra die Here om ons te help om aan Sy beloftes vas te hou. En Hom voortdurend daaraan te herinner.

Mag julle byeenkoms baie geseënd wees.

Andrie