Kleingroep en Huisgodsdiens riglyne
Sondag 11 Oktober
Reeks: God se lente bring hoop en lewe (Jes. 43:1-21)
Tema #2 God, ons Vader, versorg en voorsien
Mens tot Mens
- Ons kan God nie verstaan nie en nog minder verklaar. Hoe dink mense oor die algemeen oor God?
- Dink julle die verklaring (verduideliking) hieronder is vir mense aanvaarbaar?
God is drie en tog een. Die Vader is nie belangriker as die Seun nie en die Heilige Gees is nie aan die Seun of die Vader ondergeskik nie. Die drie goddelike Persone vorm een goddelike Wese.
Mens tot God
- Skep ‘n gewyde atmosfeer (stilte, mooi lied, gebed ens.).
- Help mekaar om op God te fokus. Praat so min as moontlik.
- Oorweeg dit om in die oomblik van toegespitsde aandag op God, Jer. 32:17 voor te lees.
- Laat almal vir ‘n oomblik nadink oor die betekenis van hierdie teksvers voordat julle die kers aansteek.
- Gee asb. vir iemand geleentheid om te bid.
God tot mens
Vra dat iemand die aanhaling uit die belydenisskrif hardop voorlees.
Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ‘n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem. Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is. (Art. 1, Nederlandse Geloofsbelydenis)
Skrifgedeelte: In Jes. 43:1-4 beloof Hy om hulle by te staan in die tyd van beproewing. Hy het hulle lief. Hulle is vir Hom kosbaar.
Skriflesing: Jesaja 43:1-4, Matt. 7:7-11.
- Die Here sê in vers 1a twee dinge aangaande Homself. Is daar ‘n verskil tussen skep en vorm? En tussen Jakob en Israel?
- Die Here sê in verse 1-4 ten minste 7 dinge om Sy volk in ballingskap te bemoedig. Kyk of julle die beloftes van die versekerings kan onderskei.
- Wat beteken die NLV-vertaling van verse 2-3a vir julle?
- Wanneer jy deur diep water van moeilikheid gaan, sal Ek by jou wees. Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie. Wanneer jy deur vuur van verdrukking stap, sal jy nie verbrand nie. Die vlamme sal jou nie verteer nie. Want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder …
In watter mate hou die bemoedigings hierbo (#2,3) verband met God wat versorg en voorsien?
- Hoe verstaan julle die volgende stellings? Het dit enigsins betrekking op God se versorging en voorsiening?
- Wanneer ons sê God is ons Vader, praat dit van geloof.
- Wanneer ons sê God is ons Vader, gee dit uitdrukking aan liefde.
- Wanneer ons sê God is ons Vader, hoor ons hoop.
- Wanneer ons God Ons Vader noem, neem ons sy belofte in Matteus 7:11 ernstig op.
Iemand het gesê: Die ervaring dat God met ons praat wanneer ons die Woord lees, vereis ‘n respons van ons kant. Gee asb ruim geleentheid vir gebed. Oorweeg dit om die groeplede een-sin-gebede te laat bid.
Mens tot medemens
Is die stelling hieronder op alle (mede-)mense van toepassing, of net op medegelowiges?
Kinders van die Vader vorm een groot liefdesgemeenskap. Hulle is broers en susters van dieselfde familie. Hulle omhels mekaar. Hulle verwelkom mekaar. En vier hul saamwees as geloofsgemeenskap.
Doen-dinge
Probeer om so eenvoudig en verstaanbaar as moontlik ’n grafiese voorstelling van die Drie-eenheid te maak.
Voorbidding
Bid dat mense opnuut deur die grootsheid van God aangegryp sal word. En dat dit sal lei tot ’n intense behoefte aan gebed.
Seënwense
Andrie