Kleingroepriglyne vir 18 Okt 2020 God, die Seun, is ons Hoop

Kleingroepriglyne vir 18 Okt 2020 God, die Seun, is ons Hoop

Kleingroep en Huisgodsdiens riglyne

Sondag 18 Oktober

Reeks: God se lente bring hoop en lewe (Jes. 43:1-21)

Tema #3 God, die Seun, is ons Hoop (Jes. 43:10-13).

Mens tot Mens

  • Jesus is tegelykertyd God en mens. Hy beskik oor een persoon en twee nature. Dink julle hierdie vreemde Bybelse waarheid is oor die algemeen vir mense aanvaarbaar?
  • Hoe dink mense oor die algemeen oor die stelling hieronder?

Jesus sê in Joh. 4 dat God gees is. Hy is ‘n enkelvoudige geestelike wese. Die Vader as Persoon beskik nie oor ‘n liggaam nie. En so ook nie die Gees as Persoon nie. Slegs die Seun het as Persoon vir ‘n bepaalde tyd oor ‘n liggaam beskik. Toe Hy mens geword het, het Hy egter nie opgehou om God te wees nie.

                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                         Mens tot God

  • Skep ‘n gewyde atmosfeer (stilte, mooi lied, gebed ens.).
  • Help mekaar om op God te fokus. Praat so min as moontlik.
  • Oorweeg dit om in die oomblik van toegespitsde aandag op God, 1 Tim. 1:1  voor te lees.
  • Laat elkeen wat wil sê wat die verwysing na Christus as ons Hoop vir hom/haar beteken.
  • Steek asb.die kers  aan.
  • Gee geleentheid vir stilgebed.

God tot mens

Wat beteken hierdie stelling hieronder vandag vir ons as Nuwe Testamentiese gelowiges?

God was Israel in ballingskap se enigste bron van Hoop. Hy bevestig dit wanneer Hy in vers 11 verklaar: “Ek, Ek  is die Here, buiten My is daar geen redder nie.”

Skrifgedeelte: In Jes. 43:10-13 herbevestig God Sy spesiale verbintenis met sy dienaar Israel wat Hy uitverkies het. Sy doel daarmee was dat hulle Hom sou ken en in Hom as die enigste ware God sou glo. En sodoende Sy getuies sou wees.

Skriflesing:  Jesaja 43:10-13.

  1. Kan julle onthou watter drie dinge God (nav die preek verlede Sondag) volgens vers 1-4 vir Israel gesê het? En wat ons daarop kan sê?
  2. Volgens sommige dui die woorde “my dienaar” op ’n eretitel. Wat sê dit vir ons van die verhouding tussen die Here en Israel?
  3. Wat was die doel van God se uitverkiesing volgens vers 10? (3 dinge)
  4. Waarvan moes hulle getuig volgens vers 10 en 11?
  5. Hoe verstaan julle die uitdrukking: ”Voor My was daar geen God nie”? Beteken dit dat daar ‘n tyd was toe God nie bestaan het nie?
  6. Sou ons God volgens verse 10 en 11 as die Alfa en die Omega kan beskryf? Waarom/nie?
  7. Is die sprong (toepassing) vanaf die Ou na die Nuwe Testament hieronder geregverdig? Waarom/nie?

God was Israel in ballingskap se enigste bron van Hoop. Hy bevestig dit wanneer Hy in vers 11 verklaar: “Ek, Ek  is die Here, buiten My is daar geen redder nie.”

Hierdie waarheid vind ook in die Nuwe Testament weerklank wanneer Jesus verklaar: “ Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe.” En: “Ek is die goeie Herder. Die goeie Herder lê sy lewe af vir die skape.” Vir ons as NuweTestamentiese gelowiges is Christus ons enigste Redder. ( Uit die Kontak)

Mens tot medemens

Wat sê die opmerkings hieronder vir ons tov ons verantwoordelikheid teenoor ons medemense?

Ons moet in onseker tye vir die onseker wêreld hoop gee. En ons gee dit deur aan hulle Iemand te gee. Hulle moet in ons woorde en deur ons dade hoor en sien dat Christus, die lewende Hoop, deur sy Gees in ons woon. (Uit die Kontak)

Doen-dinge

Probeer om so eenvoudig en verstaanbaar as moontlik vir iemand te verduidelik waarom hoop nie iets is nie, maar Iemand.

Voorbidding

Bid dat mense in hierdie onseker tye hulle hoop in Christus sal vind. En dat Here van ons lewende getuies sal maak van die hoop wat in ons lewe.

Groete en seën

Andrie