Kleingroepriglyne vir 25 Okt 2020 God, die Gees, bring nuwe lewe

Kleingroepriglyne vir 25 Okt 2020 God, die Gees, bring nuwe lewe

Riglyne vir omgeegroepe en huisgodsdiens

Week: 19-23 Oktober 2020

Reeks: God se lente bring hoop en lewe (Jes. 43:1-21)

Onderwerp #4: God, die Gees, bring nuwe lewe (Jes. 43:18-21)

Mens tot Mens

  • Lees asb. die antwoord van die Heidelbergse Kategismus (HK) op die vraag aangaande die Heilige Gees hardop voor.

Ten eerste is Hy saam met die Vader en die Seun ware en ewige God. Ten tweede is Hy ook aan my gegee sodat Hy my deur ‘n ware geloof deel laat kry aan Christus en al sy weldade, my troos en ewig by my bly.  HK Sondag 20, vraag 53.

  • Wat, dink julle, glo die mense oor die algemeen van die Heilige Gees?

Mens tot God

  • Skep ‘n gewyde atmosfeer.
  • Fokus op God.
  • Lees asb. Jes. 43:18 en 19 hardop voor.
  • Steek asb.die kers aan.
  • Bid asb. om die seën van die Here op die byeenkoms.

God tot mens

Hieronder is ‘n uittreksel uit die hoofgedagtes van die preekreeks tot dusver. Neem gerus daarvan kennis. Die onderwerp van hierdie week is die laaste van die reeks.

God beloof uitkoms aan sy volk in ballingskap. Hy is die Almagtige wat alles kan doen. Hy het Homself bewys as die Een wat sy beloftes nakom… Hy is hulle Vader wat sorg en voorsien. … En sal hulle altyd beskerm en bystaan. Want Hy is Israel se Redder, net soos wat Jesus Christus ons Redder en ons Hoop op die ewige lewe is (Kol. 1:27).  Uit: Die Kontak.

Skriflesing:  Jesaja 43:18-21.

  1. Dit wil volgens vers 18 voorkom asof die ballinge net op die verlede gekonsentreer het. Waarom was dit so?
  2. Wat kan met ons as gelowiges en as gemeente gebeur indien ons net op die verlede fokus?
  3. Gesels asb oor die stelling: “God werk nie net in die verlede nie, maar ook in die hede en in die toekoms.” Hou in gedagte wat Israel se verlede (Egipte) en hede (Babel) was. En wat die toekoms vir hulle ingehou het. Wat sê dit vir ons?
  4. Volgens verse 19b en 20 dui die “iets nuuts” op nuwe lewe. Waarop kan die nuwe lewe vir ons as individue en as gemeente dui?
  5. In watter opsig speel die Heilige Gees (en gebed) ‘n rol in hulle/ons vermoë om dit (al) te kan sien kom? Wat vra dit van ons?
  6. Wat is die doel van die nuwe lewe wat God beloof (v 20,21)?

God kan en sal deur sy Gees nuwe lewe bring! Nuwe lewe vir elkeen wat op die Here vertrou. En nuwe lewe vir ons gemeente wat op die oomblik die hartseer van ontnugtering en teleurstelling beleef. Kom ons eer Hom vir wie Hy is en vir wat Hy gaan doen! Uit: Die Kontak.

Mens tot medemens

Die Israelitiese ballinge het gefikseer geraak op die verlede… Hulle beheptheid met die verlede het hulle al hoe dieper laat terugsak in die ellende van hulle ballingskap.  Uit: Die Kontak.

Hoe kan ons mense help om, teen die agtergrond van die opmerking hierbo, nie net op die verlede te fokus nie?

Doen-dinge

Probeer om iemand wat moedeloos en teleurgesteld is, met die beloftes uit Jes. 43: 18-21 te bemoedig.

.

Voorbidding

Doen asseblief voorbidding vir mense wat in hierdie tyd geskok, moedeloos en teleurgesteld is.

Seënwense,

Andrie