KLEI IN GOD SE HAND (Jesaja 64:1-8)
Met Kersfees vier en verkondig ons dat die Woord vlees geword en onder ons kom woon het (Joh 1:14). Advent is die tydperk (vier weke) van aanloop tot Kersfees. Advent is immers nie dieselfde as Kersfees nie, maar dit is ‘n tyd van verwagting en voorbereiding op die koms van Christus. In hierdie tyd word ons herinner aan die hoop waarmee Israel in donker tye op die koms van die Messias gewag het. Advent is dus ‘n tyd vir terugkyk na Israel se Messias-verwagting. Advent wil ons leer om geduldig op die Here te wag – te midde van die moderne mens se persepsie dat wag ‘n vermorsing van tyd is in ons gejaagde samelewing. Ons fokusteks vir die week is Jesaja 64:1-8.
Daar is algemene konsensus dat die boek van Jesaja nie in een stuk gegiet is nie, maar dat dit oor ‘n lang tydperk tot stand gekom het. Die teks vir hierdie week val in die tydperk van Kores II, die koning van Anshan. Hy is die een wat die Persiese ryk verenig het en so ook beheer oor die Babiloniese ryk gewen het. Een van die groot bydraes tot die geskiedenis van die Godsvolk is dat hy in 538 vC toegelaat het dat die Joodse ballinge na Jerusalem kon terugkeer. Die volk bevind hulle dan weer terug in die land waarna hulle so verlang het, en in die vervulling van God se belofte dat Hy hulle sal red uit die hand van die vyand. Die Jode bevind hulself weer in die beloofde land, maar hierdie keer is dinge anders. Jesaja kla die volk aan dat hulle aandag gee aan hul eie behoeftes en hul eie huise bou terwyl die tempel (wat God se teenwoordigheid verteenwoordig) nog in stukkies lê. Hierdie teks begin met ‘n dringende noodkreet, maar ook ‘n begeerte dat God homself aan hulle sal openbaar. Die mense van ouds het geglo dat niemand God kan ken nie, dat Hy bo ons verstand is, en omdat ons Hom nie kan sien nie, daarom moet ons nie eers probeer om Hom te begryp of verstaan nie. En dit het dit maklik gemaak om die afgode wat hulle by die ander nasies kon sien, te aanbid. Dit is in teenstelling met hulle God wat hulle nie kon sien nie.
Maar kan dit waar wees? Moet ons spekuleer oor wie God is? Vir ewig wonder wie Hy is? Of kan ons weet dat die antwoord op hierdie vraag nie vir altyd sal wegbly nie – God se genade-ingryping word duidelik, want Jesus beliggaam hierdie antwoord.