Omgeegroep riglyne: 23-28 Maart. Jesus se voorbeeld naboots of navolg

Omgeegroep riglyne: 23-28 Maart. Jesus se voorbeeld naboots of navolg

Riglyne vir omgeegroepe, stiltetyd en

huisgodsdiens.

22-26 Maart 2021.

Tema: Jesus se voorbeeld naboots of navolg?

Skrifgedeelte: Filippense 2:5-11.

Mens tot Mens

Daar is twee moontlike reaksies op Jesus se kruisdood, soos verteenwoordig

deur die twee misdadigers aan weerskante van die kruis. Een het met Jesus

se magteloosheid gespot, ’n Messias wat Homself nie eers kan red nie. Die

ander een het Jesus se andersoortige mag erken en die risiko van geloof

geneem.

  • Hoe reageer jy/julle teenoor mense wat met die Kruisevangelie die spot dryf?
  • Wat is jou/julle indruk: neem die skeptisisme teenoor die Evangelieboodskap toe, of neem dit af?

Wat het alles in daardie laaste week van Jesus se aardse lewe gebeur? Triomfantelike intog in Jerusalem, laaste maaltyd, Jesus deur Judas verraai, Getsemane, verhore en Golgota.

Mens tot God

  • Maak asb. Seker dat daar ‘n kers brand voordat jy/julle begin.
  • Lees asb. Lukas 22:43 en 44. Probeer jou/julle in die gemoedstoestand van Jesus indink. Skep ‘n spasie vir stilte.
  • Blaas daarna die kers dood.
  • Openingsgebed.
  • Deel in mekaar se wel en wee.

God tot mens

  • Dit is eerskomende Sondag Palmsondag, ook genoem Passiesondag.
  • Vra iemand om Markus 11:1-11 voor te lees.

Skriflesing: Filippense 2:5-11. (Lees gerus ook die 2020 vertaling daarvan.)

Ons fokus op Jesus se lyding eerder as sy intog  in Jerusalem (Mark. 11:1-11). Filippense 2:5-11 gee perspektief op Jesus se lyding gedurende sy laaste week op aarde.

Hier  is ten minste 5 kernwaarhede aangaande Jesus se gesindheid en die gevolge daarvan. Dit dien as voorbeeld en uitdaging vir ons (v5).

     1Hy maak Homself los van sy Godheid. (v6)

Vers 6 beskryf Jesus se identiteit sowel as sy gesindheid (attitude).

  • Hoe verstaan julle hierdie uitdrukking teen die agtergrond van die 2020 vertaling van v6: Hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie?
  • Wat sê dit van Sy gesindheid?

2 Hy maak Homself leeg van sy Godheid. (v7)

Jesus het sy gestalte as God afgelê vir die gestalte van ’n slaaf. 

  • Wat is die verskil tussen losmaak en leegmaak in die lig van die 2020 vertaling van vers 7: …maar Hy het Homself daarvan leegemaak, deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word?
  • Dink jy/julle ons kan losmaak as ‘n voorwaarde vir leegmaak sien?
  • Waarom dink jy/julle dat Hy God gebly het toe Hy mens geword het?

     3 Hy het Homself aan God ondergeskik gestel. (v8)

Jesus se gehoorsaamheid het vir Hom die dood beteken.

  • Sê asb. wat julle hiervan dink: Jesus se bereidheid om Homself van sy Godheid los en leeg te maak het Hom staat gestel om Homself aan God ondergeskik te maak.
  • Dink jy/julle die term “ondergeskik” dui daarop dat die Vader meer gesag het as die Seun?
  • Sou dit kon beteken dat daar ‘n rangorde in die Drie-eenheid is, of is al drie Persone van dieselfde status?

Jesus het nie aan sy oorgeërfde eer en status vasgeklou nie. Die status om self God te wees, het Hy weggegee. Jesus se skandelike kruisdood demonstreer sy volledige gehoorsaamheid aan God en sy algehele vereenselwiging met die lot van slawe en sondaars.

     4 God het Hom verhoog.

Jesus se gehoorsaamheid het tot selfvernedering gelei, terwyl sy losmaak en leegmaak deur God as verheffing tot hoogste eer aanvaar word en Hy die hoogste Naam aan Hom gee.

  • Dink jy/julle Sy verhoging was ‘n beloning vir sy gehoorsaamheid?

 5 God het Hom verheerlik. (v9-11)

Vers 9-11 vertel van die dramatiese omkering van die rolle. God neem Christus se offer by die kruis aan deur Hom uitermate bó alles en almal te verhoog en te verheerlik.

  • Gesels gerus hieroor: Jesus wat Homself tot in die dood toe verneder het, kry die

mees eervolle naam in die hele heelal. Hy kry nou die nuwe titel van Here of Kurios. Alle ánder name, titels en posisies van aardse maghebbers, is hieraan ondergeskik. 

  • Jesus se vernedering en verhoging hou verlossende gevolge vir die ganse skepping in. Waarom?

Doen-dinge

Maak vir jouself uit hoe jy ’n nabootser van Christus van ’n navolger sal kan onderskei.

Mens tot mens

Is jy seker dat mense kan agterkom dat jy ’n volgeling van Jesus is en nie ’n nabootser nie?

Bid asseblief vir

  • Baie mense wat in beproewing verkeer. Noem die naam en omstandigheid indien dit nie sensitief is nie.
  • Disfunksionele huwelike.
  • Die beroepingsproses.
  • Die eredienste wat op Palmsondag plaasvind.
  • Enige ander sake.

Andrie