Omgeegroep riglyne: 15-21 Maart. Getsemane & Golgota

Omgeegroep riglyne: 15-21 Maart. Getsemane & Golgota

Riglyne vir omgeegroepe, stiltetyd en huisgodsdiens.

15-21 Maart 2021.

Tema: Getsemane en Golgota.

Skrifgedeelte: Hebreërs 5:7-10.

Mens tot Mens

Een van die Kerkvaders het gesê ons is “klein Christusse” vir mekaar.

  • Ons praat hierdie week oor Christus as Hoëpriester. In watter opsig kan ons klein Christusse vir mekaar wees?
  • Watter lesse leer Lydenstyd ons tov ons verhouding met mekaar en met ander mense?
  • Kan ander mense agterkom dat jy in Lydenstyd is. En dat jy jou vir Paasfees voorberei?

Mens tot God

  • Lees asseblief Psalm 105:2-4.
  • Hoe raak ‘n mens van God se teenwoordigheid bewus?
  • Dink aan maniere hoe julle as groep (en jy as individu) van Sy teenwoordigheid bewus kan raak.

God tot mens

Mag die Here jou/julle met wyshied en insig seën wanneer julle sy Woord bestudeer.

Skriflesing:  Hebreërs 5:7-10.

Probeer gerus ten minste nog een ander Bybelvertaling lees.

Ons volg Jesus in die gees op Sy lydensweg aan die hand van Hebreërs 5:7-10. Die verse praat oor Jesus as die volmaakte Hoëpriester wat vir mense by God intree. Hy het meegevoel met die “onwetendes en dwalendes”. En Hy is deur God tot Hoëpriester geroep.  – Kontak

Ons kan ten minste drie lesse in verse 7&8 onderskeidelik, en verse 9&10 te leer.

     1 Vers 7.

  • Hier word na Christus as mens verwys.  Hoe word God hier beskryf? Wat bedoel die skrywer daarmee tov Christus?
  • Waaraan laat die uitdrukkings gebede, smekinge ens. Jou/julle dink? Lees gerus Markus 14:32-36.
  • Waarom is Sy gebede verhoor? Watter vers in Markus 14 bevestig dit?
  • Watter les leer ons hieruit?

2 Vers 8.

  • Wat verstaan jy/julle onder die uitdrukking “Hoewel Hy die Seun was”?
  • Lees asb. Filippense 2: 6-8. Wat het hy van gehoorsaamheid geleer?
  • Wat is die les wat jy/julle hier leer?

3 Vers 9&10.

  • Wat verstaan jy/julle onder die uitdrukking “…toe Hy volmaaktheid bereik het…”? (Ek hoop om DV Sondag in my preek daarop uit te brei…)
  • Waarom word Hy “…die bron van ewige saligheid…” genoem?
  • Vir wie is dit bedoel?
  • Op grond waarvan is Hy tot Hoëpriester verklaar?
  • Hoe sal jy/julle les nr 3 bewoord?

(Ek wens ek kon julle antwoorde (en vrae) ivm die drie lesse per epos kry om dit Sondag in my preek te gebruik. My eposadres is: seniorbediening@parow-panorama.co.za)

Doen-dinge.

Dink weer oor jou antwoord op die derde vraag by die eerste afdeling Mens tot mens. Aanvaar gerus die uitdaging om in die komende week só te leef dat mense kan agterkom dat jy in Lydenstyd is.

Bid asseblief vir

  • Baie mense wat in een of ander vorm van beproewing verkeer.
  • Die beroepingsproses vir ‘n voltydse leraar wat nou aan die gang is.
  • Die Here se seën op die eredienste van eerskomende Sondag.

Seën op jou/julle nadenke oor die Woord

Andrie