Riglyne vir omgeegroepe en huisgodsdiens
Week: 8-14 Maart 2021
Onderwerp: Van Graf tot Glorie (Efesiërs 2:1-10)
Voor die groep begin, kry ‘n kers reg wat alreeds aangesteek is. Laat die kers alreeds brand wanneer groeplede inkom.
God tot mens:
In lydenstyd dink ons na oor die verdieping in ons verhouding met God. Dit word gekenmerk as ‘n tyd van onttrekking, en daarom gaan dit gewoonlik gepaard met ‘n tyd van vas en gebed – nie omdat die vas enigsins my verhouding verdiep nie, maar omdat gebed my nader bring aan God.
In hierdie reis van geestelike ontwikkeling, moet ons oplet na ‘checkpoints’. Hierdie week se ‘Checkpoint’ is ‘wees bly’. Jesaja 66:10 lees: “Wees bly saam met Jerusalem en juig saam met haar, almal wat haar liefhet…” So ook, die Johannes evangelie verkondig dat God sy enigste Seun vir die wêreld gegee het (Joh 3:16) – iets om beslis bly van te wees.
- Noem vir mekaar die dinge waaroor jy dankbaar is in jou lewe, gesin, ens. Indien jy Lego blokkies het, deel vir elke persoon ‘n (verskillende) Lego blokkie uit, en die persoon moet soveel goed noem waarvoor hy/sy dankbaar is as wat die blokkie knoppies bo het (bv 4 of 6).
Blaas die kers dood nadat almal bewus gemaak is dat dit brand, en nadat almal ‘n tydjie van stil refleksie gehad het oor dit waarvoor almal dankbaar is. Laat iemand in die Groep open met ‘n gebed van danksegging.
Agtergrond oor vandag se teks:
Anders as baie van die ander omsendbriewe in die Nuwe Testament, is die brief aan die Efesiërs nie geskryf om een of ander spesifieke probleem of dwaalleer aan te spreek nie. Eerder word dit geskryf in so ‘n manier om die horison van die lesers te verwyd sodat hulle beter kan verstaan wat God se doel is met hulle as gelowiges, sowel as om die Genade beter te verstaan wat God betoon het, en sodat hulle die hoë standaarde van God se kerk kan waardeer. Die stad Efese was ‘n baie groot kommersiële hawestad en ook bekend as die sentrum vir heidene om na die tempel van die Griekse afgod Artemis te kom en daar te aanbid. Ter selfde tyd het daar ook ‘n groot gemeenskap Jode wat ook ‘n sinagoge in die stad gehad het.
Dit is normaal vir ons almal om te ontwikkel. Toe ons pasgebore babas was, kon ons nie beweeg nie. Die lewe was toe vir ons baie primitief. EK weet jy kan nie so ver terug onthou nie, maar toe jy gebore was, was jy vasgehou en rondgedra na plekke. Jy kon nie veel doen nie. Jy het dalk gekwyl, en jou koppie het so af en toe styf trekking gekry, maar jy het nie beheer daaroor gehad nie. Jy kon net fokus op die dinge wat baie naby was – soos jou ma se gesig.
Maar toe het jy gegroei en ontwikkel. Daardie nek spiere het sterker geword, en jy kon ‘n bietjie beter beweeg. Jou oë het ook meer ontwikkel en kon nou op items fokus wat verder weg was. Jy kon nou by die gang af loer en items daar sien. En so gou soos jy daardie items kon sien, wou jy dit gehad het… So jy was op die vloer neergesit en jy kon dit regkry om te begin kruip. Maar jy het aanhou groei, en voor jy jou kon kry het jy probeer om jou eerste treë te gee – dit was ‘n ramp! Jy was nie suksesvol nie maar jy het weer en weer probeer, en nog ‘n treë gegee totdat jy goed kon loop. Nie te lank daarna nie kon jy begin hardloop, jy het vir jou ouers weggehardloop met iets in jou hand of mond wat jy nie mag gehad het nie. Later kon jy begin fiets ry, en toe, baie jare later, is daardie eens hulpelose wese agter die stuur van ‘n motorvoertuig.
Lees nou Efesiërs 2:1-10
Die stukkie hierbo beskryf die normale gang van ontwikkeling, ontwikkeling wat ons opgewonde maak en wat ons laat feesvier.
Bespreek die volgende:
- Watter areas in jou lewe is vir jou belangrik om te ontwikkel?
- Waar verwag jy moet daar meer ontwikkeling plaasvind?
- Word jy gefrustreerd as ontwikkeling nie gou genoeg plaasvind nie? Hoekom?
Net soos wat ons fisies ontwikkel in ons liggaam, is daar ook geestelike ontwikkeling wat moet plaasvind.
- As jy jouself moet beoordeel, hoe belangrik is jou geloof vir jou?
- As jy jouself moet gradeer, hoe sou jy jou persoonlike geestelike volwassenheid gradeer? (Onder-gemiddeld, gemiddeld, bo-gemiddeld)
Die teks bespreek ‘n panorama van ons redding. Dit beskryf vier temas: (a) Ons Wandel weg van God, (b) Ons ontwaking, (c) Ons afwagting, en (d) Ons werksaamhede saam met God.
- Lees verse 1-3. Dit verduidelik waarvan ons gered is. Bespreek met mekaar wat dit is. Is daar ‘n verskil tussen sonde en oortredings (v1)?
- Lees verse 4-6. Waarom, na julle mening, het God jou gered? Wat is die implikasie daarvan?
- Lees verse 6-7. Wat dink julle is die betekenis van “dat God ons….sal laat sien”? Is daar ‘n afwagting in hierdie teks? Wat van in jou lewe?
- Lees verse 8-10. Hierdie gedeelte beskryf twee gedeeltes van werksaamhede. Een vanaf God se kant, en een vanaf ons kant? Kan julle dit raak sien? Wat leer ons hieruit?
Mens tot Medemens: Introspeksie en oordenking
Bespreek die volgende stelling – dit kan óf persoonlik en privaat, óf indien die groep gemaklik is met mekaar, in die groep gedeel word:
Jy is letterlik God se meesterstuk, sy kunswerk. Jy is sy voortreflike uitdrukking waar God Homself uitdruk.
- Voel jy soos ‘n meesterstuk of ‘n mislukking?
- In watter areas is God besig om met jou te werk? Of om te ontwikkel?
- Wat is jou afwagting van God in jou lewe?
Sluit af deur vir elkeen ‘n beurt te gee om te sê waarvoor hul gebed nodig het. Bid dan as ‘n groep vir elkeen. Hou in gedagte dat jy dalk die antwoord op iemand se gebed kan wees.