Omgeegroep riglyne: 1-7 Maart. Aanstoot+Onsin=die krag van God

Omgeegroep riglyne: 1-7 Maart. Aanstoot+Onsin=die krag van God

Riglyne vir omgeegroepe, stiltetyd en

huisgodsdiens.

1-5 Maart 2021.

Tema: Aanstoot + onsin = die krag van God.

Skrifgedeelte: 1 Kor. 1:18-25.

Mens tot Mens

  • Aanstootlik en onsinnig is onvriendelike woorde. Hoe gereeld gebruik jy dit in jou verhouding met ander mense?
  • Wonder jy soms of jou optrede teenoor mense die aanleiding is vir hulle om dié woorde ten opsigte van jou optrede te gebruik?
  • Sou jy Christus as jou rolmodel  kon gebruik, al is sy optrede die verpersoonliking van dwaasheid vir baie mense? 

God roep ons om in sy krag en wysheid te lewe en nie meer soos ons self wil nie. Dit is om soos Jesus te lewe.

Mens tot God

  • Vier julle identiteit in Christus deur middel van druppels water op julle voorkoppe (doopherinnering ) nav die preek van die afgelope Sondag.
  • Berei julleself biddend voor vir ‘n ontmoeting met die Here (kersmoment).

God tot mens

Die jong kerk in Korinte, ‘n besige hawestad, was baie bedrywig. Dit het baie vrae en probleme gehad, maar ook baie opgewondenheid en vreugde. Paulus se pastorale sensitiwiteit en insig maak die brief van besonderse waarde, ook vir ons vandag. Hy rig hulle aandag op Christus se kruis. Dié boodskap gee aanstoot aan die Jode en is onsinnig vir die Grieke.

Skriflesing:  1 Korintiers 1:18-25.

Besprekingsvrae

Ons gaan hierdie rondte ‘n aantal stellings wat op die Skrifgedeelte betrekking het, bespreek. Sê gerus hoe julle dit verstaan en wat julle daarvan dink. Probeer dit op ons  (jou?) situasie van toepassing maak.

1 Vers 18 bevat die kerngedagte van die saak wat in die volgende verse bespreek word. “Die boodskap van die kruis” maak geen sin vir die gewone mense nie. Dit is dwaasheid vir hulle wat dit nie verstaan of glo nie.

2 Vers 20.

In die Nuwe Testament is “hierdie wêreld” ’n negatiewe frase wat gewoonlik met “die eeu wat kom” of “die ewige lewe” gekontrasteer word. Paulus gebruik “hierdie tyd” om te praat van wysheid wat gedoem is om te vergaan (Lees 1 Kor 2: 6).

3 Vers 21.

Kennis van God sal nooit deur groot geleerdheid verkry word nie. Dit was vir God goed om Homself deur die prediking te openbaar en om sodoende diegene wat die evangelie glo, te red (Lees Rom 10:14,15).

4 Vers 23.

Die Jode het nie baie geduld met abstrakte denke gehad nie. God werk volgens hulle deur magtige tekens en wonders. So verwag hulle dan ook hulle Messias – vir seker nie iemand aan ’n kruis nie! Die Grieke het weer op abstrakte en filosofiese denke floreer. Ook by hulle was daar nie plek vir ’n “kruis-messias” nie.

5 Vers 23.

Om ’n teken te eis, beteken om daarop aan te dring dat God Homself moet bewys. Dit is om aan te dring dat God dinge op óns manier doen. Jesus het wonderwerke gedoen, maar dit het geen nut gehad vir diegene wat tekens geëis het nie (Matt 16:1-4; Joh 2:23-25; 4:48).  

6 Vers 23.

“’n Gekruisigde Christus”. Teenoor die Grieke sowel as die Jode, stel Paulus dit onomwonde: Ons verkondig Christus wat gekruisig is! Dit is die hart van die evangelie. Watter effek dit op die Jode en die Grieke gehad het, maak daaraan geen verskil nie.

7 Vers 24.

“Vir die wat geroep is”. Diegene wat geroep en gered is, is ons. Ons is “doelbewus, kragdadig geroep” en daarom ervaar, beleef en weet ons dat dit die krag van God is wat in ons werk.

8 Vers 25.

Die dwaasheid van God (soos ’n gekruisigde Messias), is wyser as enige mens s’n. God se swakste krag is sterker as enige mens s’n. Daarom is die evangelie in die oë van mense baie dwaas, maar vir dié wat dit ken en glo, is dit die krag en wysheid van God.

Paulus beklemtoon dat ons nie soveel aan onsself en ons kwalifikasies moet dink nie. Hy spoor ons aan om eerder aan Jesus, die Gekruisigde te dink. Hy is vandag nog die verpersoonliking van dwaasheid vir baie mense en ’n struikeling vir die wat hulle eie pad wil loop.

Mens tot medemens

Wat sê hierdie stelling vir ons vandag?

Die kerk is nog altyd geroep om anders te leef. Paulus sê aan God se gemeente in Korinte, mense wat anders is as die ander mense in Korinte, sowel as die Grieke en Jode met al hulle wysheid en voorkeure: “Julle is geroep. Julle is aangespreek, opgeëis, ’n nuwe lewe gegee, ’n nuwe opdrag gegee.”

Doen-dinge

Leef voluit soos ‘n Christen!  Getuig tydig en ontydig! Al klink dit vir die mense onsinnig. En al stoot jou optrede hulle af.

Bid asseblief vir

  • Mense wat in een of ander krisis verkeer agv Covid-19.
  • Ons gemeente in hierdie tyd van onsekerheid.
  • Die Kerkraad en die beroepingsproses vir ‘n voltydse leraar wat nou aan die gang is.

Seëninge, Andrie