Omgeegroep riglyne: 22-28Feb. Wanneer God jou naam verander

Omgeegroep riglyne: 22-28Feb. Wanneer God jou naam verander

Voor die groep begin, kry ‘n kers reg wat alreeds aangesteek is. Laat die kers alreeds brand wanneer groeplede inkom.  

God tot mens:

  • Begin met ‘n tyd van refleksie oor wat die betekenis van lydenstyd is. Al die ander groot Christin-feeste wat ons waarneem, gaan altyd oor God wat uitreik na ons, maar lydenstyd, en As-Woensdag veral, is ‘n tyd waar ons ‘n reaksie op God se uitnodiging toon. Dit is ‘n tyd wat gekenmerk is deur twee gebeurtenisse: (1) Jesus se offering en (2) onttrekking na die woestyn – dit is ‘n tyd van dieper verhouding met God – soos Jesus dieper met God gepraat het tydens sy tyd van vas en gebed. Daarom is dit tyd vir ons om ook te bely (selfs vas/bid) en te smag na ‘n dieper intieme verhouding met Jesus. Neem ‘n tydjie om te reflekteer oor jou verhouding met Hom, en ondersoek die moontlikheid om in hierdie 40 dae, dalk iets spesifiek te vas, wat jy meen jou verhouding met God sal verdiep.  
  • Praat miskien oor die doel en betekenis van gebed en vas, en of dit iets is wat ons moet beoefen.

Blaas die kers dood nadat almal attent gemaak is dat dit brand, en nadat almal ‘n tydjie van stil refleksie gehad het oor die betekenis van lydenstyd, vas, en gebed.

Laat iemand in die Groep open met ‘n gebed van danksegging.
Lees nou Genesis 17:1-7, 15-21

Bespreek die volgende vrae:

  1. Het jou naam vir jou enige betekenis? En weet jy wat jou naam beteken?
  2. Was daar al ‘n gebeurtenis in jou lewe wat vir jou besonderse betekenis gehad het? Indien so, vertel daarvan.
  3. Was daar dalk al so ‘n gebeurtenis wat gemaak het dat jy dalk jou naam wou verander?

Na aanleiding van die teks wat julle gelees het:

  • Hoe voel jy oor die idee dat Abram 99 jaar oud was, en God verskyn aan hom, en beloof dat hy op daardie ouderdom die Vader sal wees van ‘n groot nasie? Dink jy hy was regtig so oud? Is dit moontlik om op daardie ouderdom nog ‘n pa te word?
  • Wat dink jy het deur Abram se gedagtes gegaan toe hy dit hoor?
  • Vers 17 noem dat Abram het “by homself gelag” oor wat God vir hom beloof het. Waarom dink jy so?
  • Waar ‘Lag’ ons soms oor beloftes wat God vir ons gegee het in ons wandel met God – goed wat ons voel onmoontlik is?
  • Hoekom dink jy het God vir Abram (Verhewe Vader) gesê dat hy sy naam gaan verander na Abraham (Vader van die menigtes)? Wat dink jy is die belangrikheid daarvan? En waar sien ons naamsveranderings vandag?
  • God het nie net Abram se naam verander nie, maar ook met hom ‘n verbond gesluit. Wat is jou verstaan van ‘n verbond? En waarom word ons hieraan herinner?

Mens tot Medemens: Introspeksie en oordenking

Bespreek die volgende stelling:

  1. As my identiteit in my naam lê, en God kom verander my naam, wat sê dit van wie ek is? En aan wie ek behoort?
  2. Dink bietjie aan die areas waar God vir jou ‘n nuwe identiteit moet kom skep – noem dit of saggies of in die groep.
  3. Wat is dit wat jou terughou om God heelhartig te volg, sonder enige twyfel? En wil jy die uitdaging uitneem om daaroor te vas die volgende 40 dae? (Vas kan byvoorbeeld iets eenvoudige wees – soos om op te hou koffie drink, of suiker gebruik, ens).

Sluit af deur vir elkeen ‘n beurt te gee om te sê waarvoor hul gebed nodig het. Bid dan as ‘n groep vir elkeen. Hou in gedagte dat jy dalk die antwoord op iemand se gebed kan wees.

Seënwense, Stefan