Riglyne vir omgeegroepe en Huisgodsdiens.
15-19 Februarie 2021
Tema: Belofte maak skuld…
Skrifgedeelte: Genesis 9:8-17
Mens tot Mens
- Probeer jouself indink in die emosionele belewenisse van Noag en sy familie in die ark tydens die sondvloed (Gen. 6:5-24).
- Wat, dink julle, sou die oorheersende emosies kon gewees het?
- Hoe sal jy in ‘n soortgelyke situasie vaar?
Aswoensdag is verby. Die eerste Lydensondag is op hande. Hierdie Sondag staan bekend as Invocavit (“Hy roep (My) aan”) na aanleiding van Psalm 91:15: “Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor …”
Mens tot God
Berei julleself voor vir ‘n ontmoeting met God.
God tot mens
Die sondvloed is verby. Noag en sy familie maak reg om die ark te verlaat. God seën vir Noag en sy seuns en sluit ‘n verbond met hulle.
Skriflesing: Genesis 9:8-17.
Besprekingsvrae
Ons gaan die Skrifgedeelte aan die hand van vier woorde/begrippe bespreek. (Dis ook die vier elemente van die preek eerskomende Sondag DV.)
- Verbond .
Tradisioneel word die Hebreeuse woord berit met “verbond” in Afrikaans vertaal. Toe die Grieke hierdie woord uit die Hebreeus na Grieks vertaal het, is dit vertaal as “belofte”.
- Waarom was hierdie verbond eensydig? (V9)
- Wat dink julle van die Griekse vertaling van die woord “verbond”?
- Waarom sou julle sê sluit God se verbond met Noag-hulle ‘n belofte(s) in? (v11)
- Teken.
’n Teken is ’n handeling of konkrete uitdrukking wat na iets verwys wat verder as die teken self gaan. In die Ou Testament het tekens meestal na Goddelike of profetiese aksies verwys. In hierdie verhaal het ons met die teken van die reënboog te doen.
- Waarom was dit nodig dat daar ‘n teken aan die verbondsbeloftes gekoppel moes word? (Moenie verder as vers 12&13 lees nie.)
- Watter geestelike waarde het die verbondstekens (Doop, Nagmaal) vir ons as hedendaagse gelowiges?
- Herinnering
Tekens (of simbole) word dikwels gebruik om ons aan God se trou te herinner. Dit is egter interessant om in hierdie geval daarop te let dat God, deur die verskyning van die reënboog, Homself aan sy belofte wil herinner.
- Waarom was/is dit nodig dat God aan sy beloftes herinner moes/moet word? (V14-16)
- Wat is opvallend in die drie verse?
- Versekering.
Ons weet dat die verskyning van die reënboog elke keer die mensdom aan God se beloftes wil herinner, naamlik dat Hy sy beloftes sal onthou, dat Hy by ons is, dat Hy geduld met ons het en dat Hy nooit weer iets soos die sondvloed as straf sal laat gebeur nie.
- Waarom dink julle het die herinneringsteken het vir Noag-hulle iets van ‘n versekering ingehou? (V17)
- Lees asseblief 1 Petrus 3:18-22. Hoe bring hierdie verse (veral Vv 21&22) ons by Lydenstyd uit?
Mens tot medemens
Hoe sou jy as gelowige, die betekenis van die reënboog aan n ongelowige verduidelik?
Doen-dinge
Neem ’n foto van ’n reënboog. Vertel die verhaal van Noag aan jou kinders/kleinkinders of iemand wat die verhaal nie so goed ken nie.
Voorbidding
Bid asseblief vir
- Mense wat in allerlei krisisse verkeer agv Covid-19.
- Ons gemeente, veral vir gemeentemense wat ongelukkig is. En vir die Kerkraad wat baie belangrike besluite moet neem.
Groete en seën
Andrie