Omgeegroep riglyne: 21-27 Junie Jesus het mag oor siekte & dood

Omgeegroep riglyne: 21-27 Junie Jesus het mag oor siekte & dood

Riglyne vir omgeegroepe, stiltetyd en

huisgodsdiens.

21 – 27 Junie 2021.

Tema: Jesus het mag oor siekte en dood.

Skrifgedeelte: Markus 5:21-43

Sosialiseer

  • ‘n Bietjie saamkuier voor die tyd is goud werd vir die skep van ‘n lekker warm atmosfeer. Of saam eet voor of na die tyd.

Simpatiseer

  • Gee geleentheid vir dié wat wil om oor hulle eie lekker en seer te praat.
  • Deel die lekker en seer van mense na aan julle met mekaar. Laat iemand vir hulle bid.
  • Draai twee-twee na mekaar en bid ‘n dankie-en-asseblief gebed vir mekaar.

Mediteer

  • Deel met mekaar hoe elkeen persoonlik te werk gaan om by die Here tot rus te kom.
  • Steek die kers aan. Gesels oor die simboliek van die brandende kers.
  • Laat elkeen persoonlik in stilte nadink (mediteer) oor die waarde van tot rus te kom by die Here.
  • Gee geleentheid vir stilgebed.

Bestudeer

1 Teks

Lees asb die Skrifgedeelte voor indien almal dit nie voordie tyd gelees het nie.

Markus vertel hier twee stories. Die tweede storie oor die vrou met bloedvloeiing word binne

in die eerste een oor die dogtertjie van Jaïrus geplaas. Sommige noem hierdie verteltegniek

van Markus ’n “Markus-toebroodjie”. Die “buitestorie” oor ’n plaaslike sinagogeleier en sy 12

jarige dogter help ons om die “binnestorie” oor ’n ouer vrou, wat vir die tydperk van twee

jaar aan interne bloeding gely het, beter te begryp – en andersom.

  • Bybelstudie
  • Wat dink julle van die “Markus-toebroodjie” verteltegniek?
  • Eduard Schweitzer gee aan die perikoop die opskrif: “The authority of Jesus over sickness and death”. Hoe moet ons hierdie gesag verstaan in ’n wêreld gekenmerk deur lyding, siekte, onreg, stryd en onsekerheid?
  • Wat het Jesus met sy opmerking in vers 36 bedoel? Kyk gerus na die opmerking hieronder.

Dit is ’n belangrike frase in dié twee verhale. Ons grootste moontlike geloof kan “nooit ’n honderdste gedeelte van die goddelike goedheid omvat nie”. Daarom moet ons daarteen waak dat ons “harte ineenkrimp” van vrees (Calvyn).

  • Is daar altyd ‘n spanning tussen vrees en vertroue wanneer daar pyn en lyding is
  • Die vraag is: Waarom het hy net die een kind lewend gemaak? Mense vra vandag nog die vraag op verskillende maniere. As Jesus soveel mag oor die dood het en as God ook vir Jesus uit die dood kan opwek, waarom het Hy nie die Covid-19 pandemie summier in sy spore gestuit nie? Gesels hieroor nav die opmerkings hieronder.

Wright sê hierdie vraag kyk die hele punt van die groter storie wat Markus vertel mis. Jesus het nie as ’n eenmansbevrydingsbeweging in die tradisionele rewolusionêre sin gekom nie. Net so het Hy ook nie as ’n eenmens-mediese noodsentrum gekom nie… Die tekens van wondergenesing en opwekking uit die dood, was tekens van die ware revolusie en genesing wat deur sy dood en opstanding sou kom.

  • Wat sou die rede vir die sg. spraakverbod in vers 43 wees? Help die opmerking hieronder julle om die vraag te beantwoord?

Die spraakverbod word telkens ingestel wanneer Jesus se mag na vore kom. Dit is juis oor hierdie mag dat mense nie moet praat nie. Waar sy goddelike mag manifesteer, moet daar geswyg word.

  • Hoe help die “buitestorie” (Jaïrus) ons om die “binnestorie” (die vrou) beter te verstaan?
  • Waarom wou sy Hom (net) aanraak? Volgens sommige het sy haar genesing “gesteel”. Waarom? Lev 15:19-27 bied moontlik ‘n antwoord. En ook die opmerking hieronder.

By die randfigure… asook by hierdie vrou wat al baie geld aan mediese sorg bestee het en steeds siek gebly het weens ’n kwaal waaroor sy nie eers durf praat nie, vind Hy geloof. Jesus het geloof in mense gesien vir wie die geloofsgemeenskap na buite gestoot het.

Reflekteer

  • Watter geestelike lesse het julle uit die verhale geleer?
  • Is daar ‘n versgedeelte of oomblik in die verhale wat vir jou uitgestaan het?

  Sluit asseblief op ‘n gepasde manier af.

Groete en seën

Andrie