Riglyne vir omgeegroepe en huisgodsdiens
Week: 14-20 Junie 2021
Teks: 1 Samuel 17:32-50
INSTELLINGSGELEENTHEID
Gee vir elke groeplid ‘n stukkie papier en ‘n potlood. Gee geleentheid vir stilgebed nadat almal gegroet is en lekker opgevang is met hoe dit met elkeen gaan. Moedig groeplede aan om in hierdie oomblik van stilte dié dinge waarvoor hulle bang is te teken of neer te skryf. (Hierdie kan ook as ‘n kindergeleentheid gebruik word om kinders te betrek.) Nooi elke groeplid uit om met God te praat oor hierdie vrese terwyl hulle die prente teken of woorde neerskryf. Die groep kan dan geleentheid kry om dit met mekaar te deel, of elkeen kan dit verbrand deur die Christuskers – wat ons gewoonlik aansteek – te gebruik.
LEES NOU 1 SAMUEL 17:32-50.
Watter tipe mense in vandag se samelewing is dié wat ons gewoonlik as dapper beskou? Hoekom?
LET OP DIE VOLGENDE STELLING
Dawid se geloofgevulde teologiese perspektief laat hom toe om uit ‘n ander oogpunt as God se volk na die droë en skynbaar hopelose situasie te kyk.
BESPREKINGSPUNTE
- David se perspektief (v32,34-37)
Vir die toeskouers (Israel se weermag) het die ontmoeting tussen Dawid en Goliat na ‘n uitge-maakte saak gelyk. Die Bybel maak dit in vorige verse duidelik dat die weermag van Israel baie bang was vir die hoofvegter van die Filistyne (Goliat). In die ou tyd was dit soms die gebruik om die sterkste vegter van elke weermag teen mekaar te laat veg, eerder as dat die hele weermag teen die mekaar veg. In dié geval was nie een van die Israeliete bereid om teen hierdie man te veg nie – selfs nie Saul, koning van die Jode, nie. “Ons moenie oor hierdie man moedeloos word nie,” het Dawid gesê. Hoekom dink julle was Dawid bereid om teen Goliat te veg, terwyl nie een ander soldaat dit wou doen nie? Wat was sy motivering en redes? Waar sou hy sy “dapperheid” vandaan kry?
- Saul se antwoord (v33)
“Moenie verspot wees nie … Jy kan nie teen die Filistyn veg nie, want jy is nog maar ‘n seun …”
Dit wil voorkom of Saul ‘n baie realistiese perspektief hier beet het. Hy kyk realisties en berekend na die situasie en oorweeg die feite. Wat dink julle het Saul belemmer om met dieselfde perspektief as Dawid na die situasie te kyk? En is dit ‘n slegte ding om soos Saul te “sien” of nie?
- Tot en met die hede is dit kenmerkend dat “God se volk” van Hom vergeet het in hierdie verhaal. Nie een keer word daar verwys daarna dat hulle na God gedraai of hulp gevra het nie. Eers toe Dawid noem dat “Die Here wat my uit die kloue van die leeu en beer gered het, sal my ook red van hierdie Filistyn” het Saul anders na die situasie gekyk. Waarom dink julle het die volk vir God misgekyk? Kyk ons soms in ons omstandighede vir God mis? Of vertrou ons eerder ons eie vermoëns en ervaring (vir besluite en uitkomste)?
- Gesindheid teenoor uitdagings
Bespreek die verskil in die gesindhede van Dawid teenoor dié van Saul. Hoe vergelyk jou gesindheid en reaksie met hulle s’n wanneer dit kom by (skynbaar onmoontlike) uit-dagings in jou lewe?
- In verse 38-39 lees ons dat Dawid nie Saul se uitrusting kon aantrek nie, want dit was te swaar/ groot en Dawid was dit nie gewoond nie. Let daarop dat die uitrusting ‘n tipe van beskerming (of “safety net”) is. Wanneer Dawid dit weier, plaas hy homself as brose persoon in die situasie. Hoe laat dit jou voel? Kan jy daarmee vereenselwig?
- In vers 40 lees ons dat Dawid sy herderstok en vyf gladde klippies optel. Alhoewel Dawid geweet het waar sy hulp vandaan kom en behendig was met sy slingervel, tel hy nog altyd meer klippies op. Dit dui daarop dat Dawid voorsiening wou maak vir ingeval hy misgooi. Indien hy die eerste maal sou misgooi – wat onwaarskynlik was – sou hy nog vier kanse gehad het. Die teks wys daarop dat Dawid vir God vertrou het, maar ook op sy eie vaardighede en vernuf staat-gemaak het. Wat kan ons uit hierdie stelling/aksies leer?
- Lees vers 45 en bespreek wat dit vir jou beteken.
REFLEKSIE
- Dink aan uitdaging(s) waardeur jy tans gaan. Met watter lens kyk jy na die situasie(s)? Is dit soos Saul (realisties en feitelik) of soos Dawid (realisties maar verstaan dat God die heerser en oor-winnaar van alles is)?
- Wat demonstreer ons as gelowiges vir mense rondom ons wanneer ons te midde van ons uit-dagings God se krag erken?
- Wat kan jy doen om mense te bemoedig wat deur lewensveranderende uitdagings gaan om moed te vind in God se krag?
GEBEDSTYD
Neem ‘n tydjie om te bid vir groeplede wat tans reuse uitdagings in hul lewens ervaar en beleef. Die lewe is moeilik en kan ons soms baie ruk en rondskud – erken die seer, hopeloosheid en angs. Neem die laaste rukkie van die byeenkoms om te bid en mekaar te bemoedig om getrou saam met God te wandel te midde van jou stryd.
Groete
Stefan