Omgeegroep riglyne: 8-13 Junie. Sien = Luister + Praat (besluit)

Omgeegroep riglyne: 8-13 Junie. Sien = Luister + Praat (besluit)

Riglyne vir omgeegroepe, stiltetyd en huisgodsdiens

8-13 Junie 2021

Tema: Sien = luister + praat (besluit)

Skrifgedeelte: 1 Samuel 16:1-13

Rus by God

  • Skep ‘n ruimte vir stil-wees voor die Here.
  • Vertel gerus waar en hoe jy die teenwoordigheid van die Here die afgelope week ervaar het.
  • Is daar dalk ‘n teksvers of meer wat jy met die groep wil deel?
  • Gee vir almal (wat wil) kans om ‘n kort gebed te doen. Bid asb. spesifiek vir die Bybelstudie wat hierna volg.

Agtergrond

Dit begin by hoofstuk 8 wat ons verlede week bespreek het. Daar word vertel hoedat Israel van Samuel geëis het dat hy vir hulle ‘n koning moet aanstel. In hoofstuk 13 word vertel hoe Saul se koningskap begin verkrummel het. En in hoofstuk 15 verneem Saul dat die Here vir Saul as koning verwerp het. Hoofstuk 16:1-13 vertel van Samuel wat op soek is na ‘n nuwe koning vir Israel.

Lees asb. die Skrifgedeelte voor indien almal dit nie voor die tyd gelees het nie.

Sleutelvers

Maar die Here sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan. 1 SAMUEL 16:7 AFR53

Bespreking

1   Lees asb. 1 Sam. 15:26 en 35. Wat sê dit van Samuel se gesindheid teenoor Saul?

2   Waarom, dink julle, word daar beweer dat die sleutelwoord in die verhaal die woord “sien” is? Stem julle saam?

3   Hoe verskil God se houding in 16:1 van dié van Samuel in 15:35?

4   Lees asb. 15:22. Is dit wat Samuel volgens 16:2 doen? Wat sou die rede(s) wees? Wat dink julle van die opmerkings hieronder?

Hy vind God se bevel “in die konteks” prakties onuitvoerbaar – Saul sal hom doodmaak. Eers as God vir hom ‘n eg menslike skelmstreek voorstel (die voorwendsel van die offer), word hy “gehoor-saam”. Ewe inskiklik paai hy die oudstes van Betlehem met ‘n halwe waarheid.

5   Wat was die probleem met Samuel se “sien” volgens 16:7? Hoe verskil dit van God se “sien”?

6   Wat sê dit vir ons kerkraad en gemeente tov die beroep van ‘n dominee? En wat sê dit vir jou persoonlik?

7   Gesels asb. oor die stelling hieronder. Wat beteken dit vir ons?

God “sien met die hart”, met wysheid en geduld. Enersyds begin God dadelik met ‘n nuwe plan; andersyds tree die plan geleidelik in werking. Die kernpunt is egter dat God alleen aan die stuur is, nie die koning nie en ook nie Samuel as God se spreekbuis nie.

8   Hoe verstaan julle (nou) die stelling Sien = luister en praat? Maw: Geloofsonderskeiding (sien) beteken dat ek eers (na God) luister en dan praat/besluit. Hoe kry ons dit reg?

Afsluiting

1   Sê asb. of julle enige geestelike waarde uit die bespreking geput het. Waarom/waarom nie?

2   Is daar enige geestelike behoeftes wat julle voel nie dmv die Bybelstudie aangespreek word nie? Laat weet asb. vir my of Stefan.

3   Sluit op ‘n gepaste manier af.

Groete en seën

Andrie