Omgeegroep riglyne: 31 Mei-4 Junie. ‘n Drama in Drie Bedrywe

Omgeegroep riglyne: 31 Mei-4 Junie. ‘n Drama in Drie Bedrywe

Riglyne vir omgeegroepe, stiltetyd en

huisgodsdiens.

31Mei – 4 Junie 2021.

Tema: ‘n Drama in drie bedrywe

Skrifgedeelte: 1 Samuel 8:1-10,18-22, 11:14-15

Rus by God

  • Skep ‘n ruimte vir stil-wees voor die Here.
  • Deel in mekaar se wel en wee.
  • Bid vir mekaar en vir ander van wie julle weet wat in beproewing is.

Die verhaal (Lees gerus hier)

Die verhaal beskryf ‘n oorgangsfase in die geskiedenis van Israel. Die bedeling van

charismatiese (geesvervulde), tydelike leiers (“rigters” of “redders”) verander hier na dié van

erflike koningskappe. In die ou bedeling was daar ‘n geykte patroon gevestig: as die leier oud

word of sterf, tree agteruitgang in en hy word vervang. Dit is ironies dat Samuel se seuns, net

soos Eli s’n, hulle vader “opvolg”, maar nie “navolg” nie. Samuel moes hieroor vir Eli veroordeel,

maar vaar self nie beter nie. Hy gebruik sy gesag om sy seuns “regters” te maak – mense

met heersersfunksies soos destydse magistrate. Die volk is ontevrede oor die korrupsie.

Hulle soek ‘n koning om hulle te regeer. Samuel is ontsteld. God stem met hom saam, maar

raai hom tog aan om na die volk te luister. Hulle het in werklikheid vir God verwerp.

Skrifgedeelte

Lees asb die gedeelte voor indien almal dit nie voor die tyd gelees het nie.

Die drama

Eerste bedryf: die volk is ontevrede.

Gesels asb.oor die volgende stellings:

  • In vers 4-5 gee die korrupsie aanleiding tot die volk se versoek om ’n koning om oor hulle te “regeer”… Daar is ’n stertjie aan verbonde: Hulle wil “soos die ander nasies” wees. (Hulle versoek beteken dat hulle nou ‘n demokrasie wil word waar die volk/mense in beheer is. Tot dusver was hulle ‘n teokrasie waar God in beheer is/was. Dui die “stertjie” dalk ook op die rede vir hulle houdingsverandering? Wat beteken dit?)
  • Gevolglik soek die volk ’n staatsbestel volgens die “beproefde model” van destyds, naamlik koningskap. Die volk eis; hulle bid nie. (Wat sê dit vir ons?)

Tweede bedryf: Samuel is ontsteld.

  • Waarom stem God met Samuel se beswaar saam en sê nogtans dat hy na die volk moet luister? God se antwoord impliseer dat Samuel kwaad was omdat hy verwerp is. Eintlik is dit God se heerskappy wat verwerp is, soos dikwels tevore. (Wat is julle antwoord op die vraag in die eerste sin? Waarom was Samuel kwaad? Stem julle saam met die stelling in die laaste sin? Waarom/nie?)
  • In vers 10-18 word konings se handelwyse uiteengesit. Natuurlik het konings dikwels hulle “regte” despoties misbruik en eenvoudig geneem wat hulle wou. Is dit nou anders? En was Samuel se seuns nie ook skuldig nie?  (Hierdie scenario is vandag steeds “alive and well” Waarom is dit so?)
  • In vers 18 voeg Samuel sy eie waarskuwing by. As konings hulle verdruk, sal God hulle nie red van die gevolge van hulle eie besluit nie. Logies, maar dalk nie heeltemal waar nie! (Lewer asb. kommentaar op die laaste sin.)
  • In vers 19-22 bly die volk koppig aan hulle versoek klou. God bevestig dat aan hierdie versoek voldoen moet word. In die lig hiervan, klink Samuel se laaste woorde aan hulle effe vies. (Waarom was Samuel “effe vies”? Wat sê dit van sy leierskap?)

Derde bedryf: Maghebbers kraai (meestal) koning.

  • In 11:14-15 kry ons die “gelukkige einde”. Nadat Saul gesalf is en die volk van ’n vyand gered het, word sy koningskap feestelik bevestig. God kry volle erkenning (dankoffers) en almal is hoogs tevrede. Die waarskuwings oor konings se eiemagtige optrede, bly op die agtergrond – voorlopig! (Die volk het geëis en nie gebid het nie, hulle het druk op Samuel geplaas en sy en God se gesag verwerp. Lees nou weer die derde sin (God kry…) Laat dit julle ook wonder hoe eg hulle was? En waarop die woordjie “voorlopig”dui?)

Wat sê dit vir ons?

  • Volgens God (nie die verteller nie),is Samuel ontsteld omdat sy gesag geminag word. Beteken die aandrang op ’n koning die verwerping van God se gesag? God sê as’t ware vir Samuel: “Ek is lankal gewoond hieraan. Jy dalk nog nie.” Samuel word twee maal aangesê om te luister, iets wat maghebbers, hoe hulle ook al genoem word, selde doen. (Dink julle ons maghebbers kry dit reg om na ons te luister? Waarom/nie?)
  • Die volk se aandrang op ’n regsorde en beskerming (’n weermag en polisiemag in ons taal) maak sin. Anargie is net op ’n distansie aantreklik. Maar om “soos ander nasies” te wees, is godsdienstig en prakties bedenklik. “Soos” beteken gou “beter as”. (Lewer asb. kommentaar hierop.)
  • Verandering verander méér as wat mense wil hê. Sentrale gesag – koningskap of ’n parlement – regeer effektiewer – en verdruk ook effektiewer. (Kommentaar asb.)
  • Die kleinskaalse korrupsie van die plaaslike hoofman (Samuel se seuns) word die grootskaalse korrupsie van “die staat”. Voorbeelde in ons eie land is legio. (Gesels gerus hieroor.)

Afsluiting

       Gee geleentheid vir ten minste twee rondtes van stilgebede.

  • Bid asseblief vir ons land en sy mense. Armoede en korrupsie is oral.
  • Bid asseblief vir ons regeerders. Dat hulle God as die Koning sal erken, gehoorsaam en dien.

Groete en seën – Andrie