Omgeegroep riglyne: 24-30 Mei. Drie-Eenheid Sondag

Omgeegroep riglyne: 24-30 Mei. Drie-Eenheid Sondag

Riglyne vir omgeegroepe en huisgodsdiens

Week: 24-30 Mei 2021

Drie-eenheidsondag Oordenking

Eerskomende Sondag staan bekend as die Drie-eenheidsondag. Dit is ‘n dag waarop alle gelowiges van regoor die wêreld weer attent gemaak word op die natuur van die God wat ons aanbid. Ons aanbid een God wie Vader, Seun, sowel as Gees is.

Praat met mekaar oor hoe (en of) julle die Drie-enige God verstaan.

Ons kan probeer om die Drie-enige God te verduidelik, maar ons sal dit nooit regtig ten volle kan verstaan of verduidelik nie. Dalk is dit makliker om nie hierdie keer te probeer uitwerk hoe God beide Vader, Seun en Heilige Gees op dieselfde tyd kan wees nie. Ons kan eerder fokus op die wonderlike feit oor hoe ons God kan beleef.

Laat die groep nadink oor die volgende:

  • Ek beleef God as my hemelse Vader, een wat lief is vir my, een wat my vashou, en een wat my lewe bewaar.
  • Ek beleef God as die Seun, die een wat my vergewe, die een wat vir my bid en intree, en die een wat vir my in voorbeeld gewys het oor hoe om te leef.
  • Ek beleef God as die Heilige Gees, die een wat my bekwaam maak om vir Hom te leef, die een wat my die krag gee om Hom te kan ken, en die een wat in my is, en my lei om vir Hom te leef.

Begin nou die omgee groep met ‘n gebed. Steek die Christuskers aan, en vra vir elkeen om te sê waar hulle God die week beleef het.

Teks vir die week: Johannes 3:1-17

Hierdie is ‘n redelike lang gedeelte. Vra die groep om elkeen ‘n paar van die verse te lees om die leeswerk te vergemaklik.

Ontdek

  • Watter tipe persoon dink julle was Nikodemus gewees? Watter waardes het hy voorgehou? En hoe het mense na hom gekyk?
  • Waarom dink julle het hy na Jesus toe gegaan toe dit reeds “donker” was?
  • Is jy soms by vreemde mense skaam oor jou geloofsoortuigings?
  • Wat het Jesus vir Nikodemus gesê kan nie gebeur indien hy nie “van bo” of “weer gebore” word nie? (v3) Dink julle dit is ‘n harde antwoord? Hoekom?
  • Nikodemus het eers Jesus se antwoord verkeerd verstaan. Hy het gedink hy is alreeds ‘n volwassene en oud en daarom kan hy nie weer gebore word nie. Hy het gevoel die boodskap is nie op hom van toepassing nie. Het jy al iemand ontmoet wie dink die boodskap (of gedeelte van die boodskap van die Bybel) is nie op toepassing van hom/haar nie? Wat sal/het jy gedoen?

Interpreteer

  • Wat dink jy beteken dit eintlik om “weer gebore” te word (of sommige vertalings lees: om “van bo” gebore toe word) ? (Johannes 3:3,5,7)
  • Wat sou die implikasies wees vir iemand wat “weer gebore” is? (Hoe sou hulle lewe anders wees? En behoort dit anders te lyk of nie?)
  • Vers 16 lei ons om te verstaan in wie ‘n mens hierdie wedergeboorte kan kry, nl. Christus. Dink julle dat mense soms hulle vertroue op ander geloofselemente plaas waaraan hulle eerder vashou omdat hulle die offer van Jesus misverstaan? Goed soos die doop, goeie werke, goeie mede-mens, ens. Watter elemente dink jy gee die meeste (vals) bevestiging aan kerkgangers dat hulle gered is?

Toepassing

  • Het jy al ooit geestelike herlewing of “weergebore” in jou eie lewe ervaar? Waar is God tans besig om met jou te werk?
  • Watter persoonlike betekenis het Johannes 3:16 vir jou?
  • Is daar iets anders in die teks wat vir jou uitgestaan het, of snaaks is? Deel met die groep.

Jesus het gesê dat as iemand nie uit water en Gees gebore word nie, hy nie die koninkryk van God kan ingaan nie. Daar word baie bespiegel oor wat Jesus hiermee bedoel. Met die Gees is daar nie ‘n probleem nie – dit is die Heilige Gees waarna hier verwys word – maar wat word bedoel met die water? Dit kan wees dat dit ‘n sinspeling is waar Jesus na Homself verwys, want net in die volgende hoofstuk verwys Jesus na Homself as die Lewende water. Dit kan dus dui op Jesus self en sy reddingswerk.

Verdere Bespreking

Ons kan ‘n hele paar lesse uit die teks neem. Hier is ‘n paar stellings wat ons uit die teks kan leer. Bespreek dit gerus, wat dink julle hiervan?

  1. Wanneer jy “weer gebore is”, is die nie genoeg om net ‘n godsdienstige waarnemer te wees nie.
  2. Wanneer jy “weer gebore is”, word jy geroep om ‘n aktiewe deelname in die kerk te hê.
  3. Wanneer jy “weer gebore is”, het jy ‘n aandeel in Jesus se opstanding.

Reflekteer

Neem bietjie inventaris van jou eie geestelike lewe. Is daar dalk plekke in jou lewe waar jy weer “nuut gebore” moet word? Herinner jouself dat die offer wat deur Jesus gemaak is, genoegsaam is vir jou redding.

Bid saam

Bid as ‘n groep saam en vra die Here om ons te help om opnuut na ons lewens te kyk, en om ons uit te daag om nuwe en opregte volgelinge van God te word.

Bid ook vir mekaar soos nodig.

Groete, Stefan