Tema: Jesus is Here (Markus 1:21-28)
Die Markus-evangelie is die oudste van die evangelies. Markus vertel op dramatiese wyse dat Jesus Christus die Seun van God is. Hy maak sy lesers en hoorders deel van Jesus se aardse bediening. En vestig die Evangelie in mense se harte en lewens. Volgens Markus gebruik Jesus die sinagoge as vertrekpunt. Sinagoges het nie almal ‘n eie rabbi gehad nie. Hulle het gereeld besoekende rabbi’s vir lering en prediking ontvang. Jesus se onderrig en lering in die sinagoge word telkens deur sy dade gevolg. Daardeur word Jesus se gesag verder gedemon-streer. Dit is wat in ons Skrifgedeelte gebeur. Hy leer hulle soos iemand wat oor volmag beskik. Die Skrifgeleerdes daarteenoor, was gebonde aan die letter van die wet en die oor-lewering van die ou mense. Hulle het die juk van wetsonderhouding met mag op hul volge-linge gelê. Jesus lê die Skrifte met gesag uit. Hy het volmag oor die Wet. En gesag wat van God en sy Gees af kom. Sy lering bring bevryding. Daarom is die mense verbaas.
Jesus se volmag word verder deur sy dade bevestig. Hy dryf die bose gees uit en bevestig sy gesag oor die Bose. Die mense se reaksie op hierdie gebeure bevestig Jesus se gesag, Hulle was verstom en vertel vir almal daarvan. Hieroor sê Martin Luther: Waar Jesus kom, waar sy gesagvolle woorde gehoor word, daar word die bose ook sigbaar en is daar ‘n botsing met die Bose. Dis opvallend dat die koms van God se koninkryk telkens met Jesus se uitdrywing van onrein bose geeste verbind word. Trouens, Jesus verbind self die konink-ryk en duiweluitdrywing met mekaar (Matt 12:28). Waar die Woord bedien word, is die bose teenwoordig. Vandag nog. Dus ook hier by ons. Dit laat mens nadink. Ons glo en bely dat Jesus Here is. Hy het reeds die mag van die bose vernietig! Hy wys aan ons hoe om as gesante van God se koninkryk te leef, om in sy voetspore te loop en ander te dien. Só openbaar God sy gesag.