GELOOFS-LENTE GEE GROEI
Dis heerlike lente; die winter’s verby …! Ons ken dié liedjie al van kindsbeen af. Maar nog nooit het die figuurlike betekenis daarvan so ‘n impak op ons lewens gehad soos in die afgelope winter nie. Dit was ‘n Covid-19 winter. Ons het nog nooit so iets beleef nie. En net soos wat ons vanjaar die langdurige winterkoue moet verduur – al is dit reeds lente – net so sukkel ons om van die Corona-winter ontslae te raak. Genadiglik is ons darem nou al by Vlak 1.
Dit wat hierbo geskryf staan, is ook op ons geestelike lewens van toepassing. Ons beleef meermale die spreekwoordelike wisseling van seisoene in ons geestelike lewens. Soms is dit winter. Dan is God ver en vreemd. Ons geloof is swak. En ons hoop verdwyn soos mis voor die son. Dit is grendel-tyd in ons geloofslewe. Ons voel ingeperk en vereensaam soos in die tyd van Vlak 5. Sonder hoop en sonder God in die wêreld. Alles binne-in ons is op sterwe na dood. En donker. Tog is dit nie die einde van alles nie. Want God is nog daar. Hy kan die seisoene verander – letterlik en figuurlik. Hy kan en wil die winter in ons geestelike lewens in lente verander. Hy het dit immers beloof. En Hy bly getrou aan sy beloftes. Saam met die lente bring die Here nuwe lewe. En nuwe hoop. Want God maak alles nuut. Hy laat jou geloof weer groei. Vertrou Hom net daarvoor. Hy is getrou.
Dis voorwaar heerlike lente! Die (geestelike) winter is verby. Die vooruitsigte vir geloofsgroei is daar. Want wanneer dit lente word in jou geloof, is daar nuwe lewe. Wees dus daarvan verseker: Geloofs-lente gee (geloofs-)groei. (Die vier onderwerpe word ook in die kleingroepe bespreek.)