GOD IS ONS VADER
God is drie en tog een. Die Vader is nie belangriker as die Seun nie en die Heilige Gees is nie aan die Seun of die Vader ondergeskik nie. Die drie goddelike persone vorm een goddelike Wese. Artikel 1 van die Nederlandse Geloofs-belydenis stel dit so: Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ‘n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem …
Wanneer ons aan God as ons Vader dink, dink ons onwille-keurig aan die Ons Vader gebed. Annes Nel verwys in Die Boodskap vir Vandag (18 September) na die kommentaar van Johann Bader oor die uitdrukking “Ons Vader”. Bader sê:
Wanneer ons sê God is ons Vader, praat dit van geloof. Dit gee uitdrukking aan ons vertroue en afhanklikheid van die Een wat ons liefhet en vir ons sorg. Wanneer ons sê God is ons Vader, gee dit uitdrukking aan liefde. Ons sien ons broers en susters en besef dat ons ander broers en susters het wat deel van dieselfde familie is. Ons omhels hulle. Ons verwelkom hulle. Ons vier ons saamwees. Wanneer ons sê God is ons Vader in die hemel, hoor ons hoop. Hierdie Vader ken ons. Hy is in beheer. Ons is nie uitgelewer aan die magte van die natuur en die willekeurigheid van die een of ander vreemde god nie. God weet wat ons nodig het. Ons kan Hom vir die toekoms vertrou. Om God ons Vader in die hemel te noem, beteken ons neem sy belofte in Matteus 7:
7-11 ernstig op: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. Watter mens onder julle sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra, of ‘n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?” God is inderdaad ons Vader wat ons versorg en in al ons behoeftes voorsien. Wat ‘n voorreg!