Parow Panorama Kerk Preek Sondag 6 Desember 2020

Parow Panorama Kerk Preek Sondag 6 Desember 2020

DIE EVANGELIE VAN DIE OU TESTAMENT (Jes. 40:1-11)

Die tweede Adventsondag is die Sondag van vrede. Dit is die tyd van verwagting na volkome verlossing en herstel. Ons Skrifgedeelte staan bekend as die Evangelie van die Ou Testament. Dit herinner ons aan Johannes die Doper wat die pad vir ons Verlosser moes voorberei.
Troos is een van die belangrikste temas in hierdie perikoop. Die opdrag om die mismoedige bannelinge te troos, kom van ‘n God wat omgee. Die boodskapper moet aan die volk in hulle vertwyfeling verkondig dat die vrede tussen hulle en God herstel is en dat ‘n nuwe toekoms wag. Hierdie troos is vir mense wat alles wat aan hulle identiteit gegee het, verloor het. Die troos moet in die lig van God se troue verbondsliefde en hulle roeping as volk van God verstaan word. Die Engelse woord “comfort” dui daarop dat troos nie bloot die afdroog van trane is nie, maar dat dit die krag is om ‘n situasie te kan hanteer. Dit gaan om die bemoediging en sekerheid van God se hulp en krag. Sy stok en staf vertroos ons. (Ps 23:4)
Goeie nuus is net so ‘n belangrike tema in die perikoop. In die gees van die boodskap van troos, moet die boodskapper mooi met Jerusalem praat. Letterlik staan daar: “praat na die hart van Jerusalem”. En dan volg die driedubbele belofte van vergifnis. God kom met die goeie nuus dat daar sagkens met sy volk gepraat word en dat die pad reguit gemaak word, nie bloot vir die ballinge om by die huis te kom nie, maar ook vir God om terug te keer Jerusalem toe. God is aan’t kom. Hy is op pad. Elkeen wat weet wie die God is wat troos, sal Hom sien. Advent het eweneens met die Seun van God se eerste en tweede koms te make. Julle God is hier! is die derde tema. God word hier aan die hand van twee beelde beskryf. Aan die een kant is Hy die Kryger wat red. En aan die ander kant is Hy die Herder wat versorg. Dit is Sy mag wat sag met ons werk. En dit is die Evangelie wat van elke gelowige ‘n draer van die troosboodskap maak.

Gee Aanlyn

SnapScan is ‘n maklike manier van gee 1. Installeer die SnapScan app 2. Volg die app se instruksies 3. Maak die SnapScan skakel oop en scan die kode met die app. 4. Die link behoort in die SnapScan oop te maak op ‘n telefoon as Snapscan klaar geinstalleer is.