HOU JOU RIGTING – #3:
WARE MEDEMENSE IS KOERSVASTE MENSE
‘n Mens word ‘n medemens wanneer jy jou eie broosheid en kwesbaarheid erken. As dit gebeur, sal medemense agterkom dat jy hulle diepste gewaarwordinge verstaan. En sal jy as opregte medemens empaties by ander se wel en wee betrokke raak en jou in hulle leefwêreld inleef.
Ware medemense weet waarvandaan hulle kom en waarheen hulle gaan. Soos Josua van ouds het hulle duidelikheid oor die pad vorentoe, hoewel hulle nie seker is wat die eindbestemming van hulle missie gaan oplewer nie. Hulle is koersvaste mense, mense wat duidelikheid het oor hulle roeping en taak. Al sou hulle nie seker wees oor die uitkoms van hulle rol as herder en helper nie, weet hulle ten minste dat hulle doen wat God van hulle verwag. En dat hulle getrou is aan die Bybelse opdrag om soos die Goeie Herder in Joh. 10, leiers met die hart van ‘n herder te wees wat hulle naaste liefhet soos wat hulle hulself liefhet.
Medemenslikheid onderskryf die vier waardes van die Seisoen van Menswaardigheid, naamlik respek, luister, omarming en liefde. Ware medemense slaag daarin om ander mense met respek te benader, onbevooroordeeld na hulle te luister en hulle met simpatie te omarm. Dit alles gebeur in ‘n gees van Christelike liefde. Hulle sien ander mense soos wat Christus hulle sien. En dit bevorder die menswaardigheid van diegene by wie hulle betrokke raak.
Baie mense het in hierdie tyd van onsekerheid behoefte aan ware medemense. Mense wil graag weet dat daar medemense is wat werklik vir hulle omgee. Dit is nou meer as ooit nodig dat ons ons verantwoordelikheid as medemense sal besef. En bereid sal wees om uit ons gemaksone te tree en vir ander daadwerklik te wys dat ons regtig vir hulle omgee.