Wanneer God jou naam verander (Gen 17:1-7; 15-21)
In ons kultuur is die betekenis van ons name nie so erg belangrik soos wat dit in sommige ander kulture is nie, veral in die kultuur in die Bybel. Hier is jou naam ‘n verlenging van wie jy is, wie jy in wese is, of dit wat jy behoort te wees.
Sondag se teks raak drie belangrike elemente aan: (1) God, die Almagtige, (2) die Belofte, en (3) die Verandering van name.
Hoekom verander name? Wat is belangrik daar-aan? En waarom word dit spesifiek so gedoen? Elizabeth Webb (teoloog) meen dat ons name een van die mees intieme dinge omtrent ons identiteit is. So, wat sou met hierdie identiteit gebeur wanneer daar ‘n naamsverandering sou plaasvind?
Daar is iets spesiaals aan die gang wanneer God mense se name in die Bybel verander – altyd ‘n verandering van status, ‘n verandering net voor iets groots gebeur. Interessant, hier stel God Homself ook bekend met ‘n ander naam as waaraan die Hebreeuse teks gewoond is. Hy verwys na Homself as die El Shaddai, eerder as na YHVH (in vers 1a). Dit is duidelik dat die naamsverandering nie misgekyk moet word nie, maar dat ons iets van waarde hieruit kan neem.
Wat is jou naam? Wat is jou identiteit? En wan-neer verander God jou naam?