Parow Panorama Kerk Preek Sondag 8 Nov 2020

Parow Panorama Kerk Preek Sondag 8 Nov 2020

Padtekens is baie belangrik. Dit help ons om te weet of ons moet stop of ry, mag verbygaan of nie en hoe ver die volgende bestemming is. Die verhaal van Israel is vol sulke padtekens: Abraham, Isak, Jakob, Josef, Egipte, die uittog, die woestyntyd en die intog in Kanaän. Nou is dit asof die padteken voor hulle staan wat sê: ʺBestemming bereik! Julle pad van swerftog het aan ‘n einde gekom.ʺ God het al sy beloftes vervul.
Israel het egter nie net hulle lank beloofde bestemming bereik nie. Dit is ‘n uitnodiging om die voet-spore van God in hulle geskiedenis raak te sien. Dit is om hulle bewus te maak dat hulle ‘n lewende, kragtige en wonderlike God aanbid. Dit is tyd om na te dink oor die voetspore van God in ons lewens. Ons kan ook die tye onthou toe ons in donker plekke was en God ons opgetel en uitgelig het. Ons kan ‘n siekte onthou en hoe die Here ons genees het. Ons kan sonde onthou wat ons gepleeg het, die pyn wat ons veroorsaak het en hoe die wonderlike boodskap van God se vergifnis ons harte warm gemaak het. Dit is voetstappe van die genadige, liefdevolle God wat omgee.
Volgens Josua is Kanaän nie nou die einde nie. Dit is ‘n nuwe begin. Wanneer God aan ons gegee het wat Hy belowe het, is daar ‘n groot gevaar. Ons mag dink ons het hierdie gawe vir ewig, ons kan nou doen soos ons wil. God se trou en beloftes het vir ons slegs waarde as ons ‘n keuse maak om Hom alleen – en vir altyd – te dien. Vir Josua was dit duidelik dat die vrede van God, die werklike bestemming, slegs bereik kan word as ons ‘n keuse maak om die pad met God te stap. Hy en sy huis het hierdie pad gekies. En nou besluit die volk ook om dit te doen.
‘n Mens loop jou bestemming mis as jy nie bereid is om God se beloftes ernstig op te neem en ‘n lewe te lei wat daarby pas nie. Om God se beloftes te hoor en daaroor na te dink, beteken niks as dit nie tot dissipelskap lei nie. Die Bybel daag jou vandag uit om ernstig oor jou verhouding met die Here na te dink. En jou in alle erns opnuut heelhartig aan Hom toe te wy.
(Oorgeneem en verwerk uit Woord en Fees)

Gee Aanlyn

SnapScan is ‘n maklike manier van gee 1. Installeer die SnapScan app 2. Volg die app se instruksies 3. Maak die SnapScan skakel oop en scan die kode met die app. 4. Die link behoort in die SnapScan oop te maak op ‘n telefoon as Snapscan klaar geinstalleer is.